Nuus 09:00
BULLETIN 8 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party sê landsburgers hoef nie na nog leë planne in die staatsrede te luister nie
# Staatsamptenare loop gevaar om uitgesluit te word van die nuwe tweepot-aftreestelsel
# En, Israel se eerste minister verwerp Hamas se skietstilstand-voorstel
# Die GOOD Party sê Suid-Afrikaners hoef nie na nóg leë planne in president Cyril Ramaphosa se staatsrede te luister nie, al is dit goed bedoel. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê daar is te min gedoen aan die maatskaplike en ekonomiese uitsluiting van die verlede. Hy sê Ramaphosa moet sake soos ekonomiese groei, die energie- en armoedekrisis, en grondhervorming aanspreek:
# Die Nasionale Tesourie waarsku staatsamptenare loop gevaar om uitgesluit te word van die beoogde tweepot-aftreestelsel weens ongewysigde pensioenfondsreëls. Die stelsel laat toe dat ‘n derde van toekomstige spaargeld uitbetaal word tydens ‘n loopbaan, en die oorblywende twee-derdes met aftrede. Die Tesourie dring aan op dringende wysigings om toegang tot aftree- en noodfondse moontlik te maak. Mense kan tans hul volle pensioenspaargeld onttrek wanneer hulle ‘n werk verlaat, wat hulle dikwels finansieel kwesbaar laat met aftrede. Die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse het ten doel om pensioenreëls te wysig.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die nasionale taakspan wat politieke moorde ondersoek, ontplooi om moorde in die Nongoma-gebied in KwaZulu-Natal te ondersoek. Dit volg nadat ‘n IVP-raadslid en ʼn kind gister deur onbekende gewapende mans doodgeskiet is. Twee ander kinders is gewond. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die nasionale kommissaris het die polisie aangesê om alles in hulle vermoë te doen om seker te maak die verdagtes word vinnig aangekeer:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Hamas se voorwaardes vir ʼn voorgestelde skietstilstand verwerp en beskryf dit as waansinnig. Die terroristegroep se voorstel sluit in dat gyselaars in drie fases vrygelaat word, dat gevegte aanvanklik vir 45 dae gestaak word en dat Israelse magte heeltemal uit Gaza onttrek. Netanyahu sê die enigste oplossing vir Israel se veiligheidskwessies is ʼn algehele oorwinning oor Hamas:
# Gholf: Die 15-malige Major-kampioen, Tiger Woods, speel volgende week by The Genesis-uitnodigingstoernooi in Kalifornië in sy eerste toernooi van die seisoen. Die 48-jarige Woods het in April verlede jaar ʼn enkel-operasie ondergaan nadat hy in die derde ronde aan die Meesters onttrek het. Hy het eers in Desember weer aan die Hero World Challenge deelgeneem. Die Amerikaners, Justin Thomas en Will Zalatoris, en Adam Scott van Australië sal ook aan The Genesis deelneem. Woods se laaste oorwinning op die PGA-toer was in 2019 se Zozo-kampioenskap in Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-526-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en 32-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….