Nuus 09:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 18 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika versterk sy geen-verdraagsaamheid-standpunt oor misdaadvoorkoming ná werknemers se aanklagte rakende dwelmhandel
# Kommer heers oor die integriteit van die verkiesingsproses nadat ‘n onderwyser daarvan beskuldig word dat hy 24 keer stem
# En, Sokker: Everton kry die swaarste Premierliga-puntestraf nóg vir ‘n winsreëloortreding
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het sy onwrikbare verbintenis tot ‘n geen-verdraagsaamheidshouding teen misdaad bevestig ná die inhegtenisneming van vyf mense, insluitend twee werknemers, vir dwelmhandel op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Die beskuldigdes het gister in die Landdroshof in Kemptonpark verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelmhandel en die oortreding van die Wet op Burgerlugvaart en die Wet op Doeane en Aksyns. Die ACSA-werknemers is van die Veiligheids- en Elektriese Instandhoudingsdepartemente, terwyl die ander vir Menzies Aviation en Swissport werk.
# Die African Transformation Movement het kommer uitgespreek oor die integriteit van die verkiesingsproses nadat ‘n onderwyser na bewering 24 keer gestem het. Die party sê die saak beklemtoon moontlike bedrog deur voorsittende amptenare verbonde aan SADOU en COSATU. Dit, tesame met briewe wat ‘n gekoördineerde poging voorstel om verkiesings te benadeel, is kommerwekkend. Die ATM glo affiliasie met hierdie organisasies is ‘n botsing van belange, wat vooroordeel ten gunste van ‘n politieke party kan veroorsaak. Die nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, vra die Onafhanklike Verkiesingskommissie om die voorsittende amptenare se aanstellings te heroorweeg:
Speel klankgreep: ENG-ZamaOnElections
# Dié week se samesprekings tussen die Amerikaanse president Joe Biden en die Chinese leier Xi Jinping, en instemming om militêre kommunikasie te herstel, behoort bestendigheid te bring in die Straat van Taiwan. Dit is die mening van die hoofafgevaardigde van Taipei by die Asië-Stille Oseaan Ekonomiese Samewerking-spitsberaad. AFP berig Morris Chang, wat in San Francisco is as Taiwan se gesant vir die spitsberaad, dink dit is goeie nuus dat hulle militêre kommunikasie hervat het. Taiwan is ‘n sleutelpunt van spanning tussen Washington en Beijing, met China wat aanspraak maak op die selfregerende Taiwan as sy gebied.
# Sokker: Everton is die swaarste puntestraf in die geskiedenis van die Premierliga opgelê. Die Engelse klub het tien punte verloor weens ‘n oortreding van die liga se wins- en volhoubaarheidsregulasie. Sky Sports News berig die aanklag hou verband met rentebetalings op die boukoste van die klub se nuwe stadion. Die straf laat Everton op vier punte, wat hulle in die relegasiesone plaas. Die klub het sy skok en teleurstelling uitgespreek en aangekondig dat hulle voornemens is om teen die besluit te appelleer.
# En, laastens: Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ‘n plan ter waarde van 2,67-miljard-rand oor vyf jaar van stapel gestuur om indringerplante hok te slaan deur die Werk vir Water-program. Hy beoog om jaarliks 38-duisend-839 werksgeleenthede te skep, met die fokus op landelike gemeenskappe. Indringerspesies bedreig bioverskeidenheid, waterbronne en lewensbestaan, wat vloede en veldbrande vererger. Minister Barbara Creecy sê die Gautengse Werk vir Water-program sal 74-duisend-781 hektaar oor vyf-jaar teiken:
Speel klankgreep: ENG-CreecyOnWater
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….