Nuus 09:00
BULLETIN 31 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zimbabwe bestee meer as 79-miljoen-rand aan terugkerende landsburgers
# Die ANC vesoek Suid-Afrikaners om die naweek te registreer om te stem
# En Hamas het ingestem om heeltemal te ontwapen in Gaza
# Zimbabwe se minister van Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, professor Mthuli Ncube, sê die regering het sowat 79,2-miljoen-rand bestee aan die repatriasie en herinskakeling van landsburgers wat uit Suid-Afrika terugkeer. Meer as 36-duisend Zimbabwiese burgers het deur regeringsondersteunde reëlings, en byna 80-duisend het op hul eie na Zimbabwe teruggekeer. Ncube sê die geld dek vervoer, tydelike verblyf, voedselhulp en mediese dienste in:
# Die ANC het alle Suid-Afrikaners wat nog nie as kiesers geregistreer het nie, aangemoedig om dit môre en Sondag tydens die tweede en laaste kieser-registrasienaweek te doen. Dit is aanloop tot die munisipale verkiesing in November. Meer as drie-miljoen registrasies is tydens die eerste kieser-registrasienaweek op 20 en 21 Junie aangeteken. Die waarnemende ANC-woordvoerder, Nonceba Mhlauli, sê die Verkiesingskommissie se registrasieveldtog is belangrik om ‘n vrye en regverdige verkiesing te verseker:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die metro se kapitale uitgawes van meer as 12,2-miljard-rand vir die 2025/2026-boekjaar is nie net ‘n rekord-infrastruktuurbelegging vir Kaapstad nie, maar ‘n Suid-Afrikaanse rekord vir ‘n stad in ‘n enkele jaar. Nagenoeg 75-persent van die metro se infrastruktuurbelegging hou ‘n regstreekse voordeel in vir laerinkomste-huishoudings. Hill-Lewis sê hoogtepunte oor die volgende drie jaar sluit in 16,7-miljard-rand vir water en sanitasie, ses-miljard-rand vir opgraderings en instandhouding van die elektrisiteitsnetwerk, en 3,3-miljard-rand vir die verbetering van informele nedersettings:
# Die militante groep, Hamas, sê hy het ingestem tot die Vredesraad se plan dat hy in Gaza ontwapen word. President Donald Trump van Amerika beskryf die ooreenkoms as ʼn belangrike mylpaal wat betref sy 20-punt vredesplan om die oorlog in Gaza te beëindig. Die plan van vier bladsye sit ʼn gefasseerde proses uiteen wat Hamas se ontwapening verbind aan Israelse magte se geleidelike onttrekking, en die ontplooiing van ʼn nuwe Palestynse oorgangsowerheid wat deur ʼn internasionale stabiliseringsmag ondersteun word. Hamas waarsku as Israel nie die ooreenkoms instel nie, sal hy ook nie.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam UEFA se 55 lede het eenparig gestem om die Wêreldbeker en ander FIFA-kompetisies te boikot indien die sport se beheerliggaam voortgaan met sy omstrede verkoopsplan. FIFA-president Gianni Infantino wil ‘n filiaal ter waarde van ongeveer 334,46-miljard-rand stig en meer as 20-persent van die nuwe FIFA Forward Enterprise verkoop en vanjaar na raming 70,35-miljard-rand insamel. Concacaf, wat die sport in Noord- en Sentraal-Amerika beheer en vanjaar se Wêreldbeker aangebied het, sê sy 41 lede het ook die voorstel verwerp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-210-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-78-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….