Nuus 09:00
BULLETIN 18 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig die ANC dat hulle minister Motshekga beskerm
# Adjunkpresident Mashatile beklemtoon die belangrikheid van ons betrekkinge met China
# En padwedlope: Die marathon-wêreldrekordhouer Ruth Chepngetich is geskors oor ‘n verbode middel
# Die DA beskuldig die ANC dat hy die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, in die Parlement teen aanspreeklikheid beskerm. Die gesamentlike staande komitee oor Verdediging se medevoorsitter, Malusi Gigaba, het skielik ‘n ommekeer gemaak oor die komitee se onderneming om antwoorde van Motshekga te eis oor die 813,3-miljoen-rand wat die Nasionale Tesourie volgens berigte beskikbaar gestel het vir soldate se toelaes tydens ontplooiing. Die DA sê hy wil weet hoe die fondse bestee is te midde van berigte dat die SANW se soldate nie hierdie toelaes ontvang het nie.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrika en China se verbintenis bevestig om samewerking ter ondersteuning van inklusiewe ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling te bevorder. Hy is op ʼn werksbesoek aan China om bilaterale betrekkinge en ekonomiese samewerking tussen die twee lande te versterk. Mashatile sê die verhouding baat albei lande deur groter handel en belegging, maar daar is knelpunte, soos ʼn voortgesette handelstekort in China se guns:
# Die GOOD Party sê die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, se poging om kritici van die metro se 2025/2026-begroting as vyande van die armes uit te beeld, is oneerlik en misleidend. Die totale begroting is 84,1-miljard rand, teenoor die vorige jaar se 76,6-miljard-rand. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê die ware begrotingselemente wat armes bevoordeel, soos gratis basiese dienste en uitgebreide voorsiening van sanitasie, word nie deur welgestelde inwoners subsidieer nie:
# Die Verenigde Nasies sê die toenemende geweld tussen sektes in die suide van Sirië asook Israel se lugaanvalle tot in sentraal-Damaskus het dié oorloggeteisterde land nader aan sy kantelpunt gestoot. Israel se weermag het ‘n lugaanval op die buitewyke van die stad Sweida uitgevoer, terwyl botsings tussen vegters van stamme in die gebied en Bedoeïene Donderdag toegeneem het. Die assistent-sekretaris-generaal van die VN, Khaled Khiari, sê Israel ondermyn pogings om ‘n nuwe vreedsame Sirië te skep:
# Padwedlope: Die vrouemarathon-wêreldrekordhouer, Ruth Chepngetich, is tydelik deur die Atletiek-integriteitseenheid geskors. Sy het op 14 Maart positief getoets vir hidrochloortiasied, ʼn verbode ontwaterings- en maskeermiddel. Chepngetich kan vir twee jaar geskors word, maar haar saak mag deur ʼn dissiplinêre tribunaal aangehoor word. Die Keniaan het die wêreld verstom toe sy in Oktober die Chicago-marathon in 2-uur-9-minute-56-sekondes gewen het. Dit het die vorige rekord met byna twee minute verbeter.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82 sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-92 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-250-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-334-dollar-90 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….