Nuus 09:00
BULLETIN 6 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie gaan die Konstitusionele Hof nader om teen die uitspraak oor die manipulering van die rand te appelleer
# OUTA verkies om vanjaar se staatsrede te boikot
# En, die Brandvlei-brand is onder beheer maar brandpunte word nog dopgehou
# Die Mededingingskommissie het die Konstitusionele Hof genader vir verlof tot appèl teen die uitspraak van die Mededingingsappèlhof om die aanklagte van geldeenheid-manipulering teen verskeie plaaslike en internasionale banke te laat vaar. Dit volg nadat die hof die kommissie se saak teen 23 van die 28 banke wat na bewering tussen 2007 en 2013 betrokke was by die manipulering van die rand/dollar-wisselkoers, van die hand gewys het. Die kommissie se woordvoerder, Siyabulela Makunga, sê sy appèl-aansoek is teen 13 banke wat Standard Bank en Bank of America insluit:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy verkies om vanjaar president Cyril Ramaphosa se staatsrede te boikot. Dit is uit verset teen wat hy sien as politieke arrogansie en leë retoriek tydens die toespraak. OUTA het mede-Suid-Afrikaners aangemoedig om deel te neem aan die optrede. Uitvoerende hoof Wayne Duvenage verwag die staatsrede gaan voorkeur gee aan ‘n politieke skouspel bo aandag aan uiters noodsaaklike nasionale kwessies:
# Brandbestryders in die Kaapse Wynland kon die Brandvlei-brand buite Worcester onder beheer bring, maar talle brandpunte en smeulende denne-stompe in die gebied word dopgehou. Die brandbestryders het gisteraand eiendom beskerm en verskeie brandlyne, insluitend in Baviaanshoek en Matroosberg, gemonitor. Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê geen skade is aangerig aan huise of die Brandvlei-gevangenis nie:
# Die aktrise Gina Carano dagvaar Disney en Lucasfilm weens diskriminasie en onregmatige afdanking. Sy was Cara Dune in die eerste twee speelvakke van die Disney Plus-reeks The Mandalorian. Die 41-jarige is in 2021 afgedank oor ‘n plasing op sosiale media waarin sy gesê het om ‘n Republikein te wees is vergelykbaar met Jode tydens die Joodse Vervolging. Carano sê sy is getreiter en beledig vir haar regse menings en omdat sy weier om na Disney en Lucasfilm se pype te dans. Sy eis skadevergoeding van sowat 1,4-miljoen-rand van Lucasfilm en wil weer in die rolverdeling opgeneem word.
# Rugby: Frankryk se slot, Paul Willemse, is vir vier weke geskors ná sy rooikaart teen Ierland in Vrydag se Sesnasies-wedstryd. Hy het in die agste minuut ‘n geelkaart gekry vir ʼn hoogvat op Andrew Porter. Dis gevolg deur ʼn tweede geelkaart na nog ʼn hoogvat, die keer op Caelan Doris. Dit is egter na ʼn rooikaart verander nadat ʼn paneel die 31-jarige speler skuldig bevind het aan twee gevalle van vuilspel. Die skorsing beteken Willemse gaan die wedstryde teen Skotland en Italië misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-934-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….