Nuus 09:00
BULLETIN 23 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê ’n poging om Zuma met teen-immigrasie-optogte te verbind, is politieke opstokery
# Iran sê hy het geen nuwe ooreenkomste oor kerninspeksies aangegaan nie
# En sokker: Messi maak Wêreldbeker-geskiedenis
# Die MK-party veroordeel ‘n artikel in TimesLive wat volgens hom partyleier Jacob Zuma by die bespreking rondom die betogings in Julie 2021 betrek en by implikasie ook by volgende week se optogte teen onwettige immigrasie. Hy sê die artikel hou nie by feite nie, maar gebruik anonieme aansprake van bronne wat na bewering na aan Zuma is. Die party sê pogings om Zuma sonder behoorlike bewyse te betrek, is ʼn doelbewuste poging tot politieke opstokery. Hy sê Zuma het herhaaldelik gevra vir vrede en wettige politieke aktivisme.
# Die DA is bekommerd oor die besluit deur die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om nie die dringende aansoek om ‘n interdik deur president Cyril Ramaphosa teen te staan om die werk van die Ampsklagkomitee te staak nie. Die Parlement sê die speaker het regsadvies en die onderskeie rolle van die Nasionale Vergadering en die Ampsklagkomitee deeglik oorweeg voor sy besluit het om die aansoek nie teen te staan nie. George Michalakis van die DA voer aan die komitee self het wel die regstatus het om die Parlement te verteenwoordig:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê duidelike en praktiese maatreëls is ingestel vir die betogings van 30 Junie. Groepe soos March and March wat teen onwettige immigrante gekant is, het die datum as sperdatum verklaar waarop alle ongedokumenteerde buitelanders Suid-Afrika moet verlaat. Lesufi sê provinsiale owerhede en wetstoepassingsagentskappe werk saam aan ʼn veiligheidsplan om seker te maak alle betogings is vreedsaam. Hy sê geweld, skade aan eiendom en gepeupelreg sal nie geduld word nie:
# Die Iranse ministerie van Buitelandse Sake het bewerings deur die Amerikaanse visepresident JD Vance weerlê, dat hulle na die naweek se onderhandelinge in Switserland, ingestem het om kernmonitors in die land toe te laat. Teheran het in Julie verlede jaar samewerking met die Internasionale Atoomenergie-agentskap opgeskort, nadat Washington aanvalle op die land se kernverrykingsfasiliteite uitgevoer het. Die ministerie sê Iran het nie tydens gesprekke van 18 uur oor die kernkwessie onderhandel nie, en bygevoeg sy samewerking met die Atoomagentskap sal onder die huidige prosesse voortduur.
# Sokker: Die 38-jarige Lionel Messi het geskiedenis gemaak om die voorste doelskieter in die geskiedenis van die Wêreldbeker te word. Hy het twee doele aangeteken in Argentinië se 2-0-oorwinning oor Oostenryk in Dallas en daarmee sy span se plek in die uitklopfase verseker. Messi spog nou met 18 Wêreldbeker-doele, twee meer as Kylian Mbappe van Frankryk en Miroslav Klose van Duitsland. Frankryk is ook deur na laaste 32 na ‘n 3-0 oorwinning oor Irak. En in New Jersey het twee doele deur Erling Haaland Noorweë na die uitklopfase laat deurdring met ‘n oorwinning van 3-2 oor Senegal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-998-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-144-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….