Nuus 09:00
BULLETIN 20 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Morolong sê die RNE se ekonomiese hervormings moet geleenthede vir die volgende generasie uitbrei
# ActionSA vra Suid-Afrikaners om te registreer om te stem en sukkelende munisipaliteite reg te ruk
# En rugby: Morné Steyn glo Rassie wil Quan Horn in die volgende Willie le Roux omskep
# Adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê elke ekonomiese hervorming en belegging wat die regering van nasionale eenheid onderneem, moet uiteindelik geleenthede vir die volgende generasie uitbrei. Morolong het gisteraand tydens die afsluiting van die 11de Groen Jeug Indaba in Sun City, Rustenburg, Noordwes gepraat. Hy beklemtoon die dringende behoefte om jeuginnovasie te omskep in volhoubare ondernemings, werksgeleenthede en ekonomiese groei:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê die regering en ander belanghebbendes het die veldtog teen onwettige immigrasie landwyd verskerp. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê hul het gister, in samewerking met die polisie en Binnelandse Sake, die terugkeer van 673 Malawiese en 202 Zimbabwiese burgers via Beitbrug gereël. Sy sê die Zimbabwiese burgers is met drie busse vanaf Gauteng vervoer, terwyl tien busse, vyf in Durban in KwaZulu-Natal en nog vyf in Kaapstad, ingespan is vir die Malawiese repatriasie-operasie.
# Suid-Afrikaners gaan die naweek landwyd registreer tydens die amptelike kiesersregistrasienaweek, en ActionSA vra alle burgers om te registreer en met hulle stem te help om sukkelende munisipaliteite reg te ruk. Boitumelo Molefe van die party sê vanjaar is dit 50 jaar sedert die geskiedkundige Jeugopstand in 1976. Sy sê hoewel vyf dekades intussen verloop het, is miljoene jong Suid-Afrikaners steeds vasgevang in werkloosheid, armoede en misdaad, asook gebrekkige infrastruktuur en munisipaliteite wat versuim om hul grondwetlike plig teenoor gemeenskappe na te kom:
# Statistiek Suid-Afrika sê siviele skuldsake toon gemengde neigings in die data vir April. Die aantal siviele dagvaardings wat vir skuld uitgereik is, het met 2,5-persent in die drie maande afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Siviele vonnisse vir skuld het egter met 3,6-persent toegeneem. Vhonani Kwinda van Statistiek SA sê dit dui op minder sake wat uitgereik word, maar hoër skuldinvordering deur hofuitsprake:
# Die Suid-Koreaanse president, Lee Jae Myung sê die land se verkiesingbestuurstelsel moet heeltemal hersien word. Hy het ‘n reeks omstrede voorvalle by die Nasionale Verkiesingskommissie, insluitend ‘n tekort aan stembriewe, as belaglik bestempel. Lee het ‘n ondersoek deur aanklaers en die polisie gelas ná stembrieftekorte die plaaslike verkiesing van 3 Junie ontsier het. Die voorval het openbare woede en betogings ontlok, en eise vir die bedanking van die hoof van die verkiesingskommissie. Lee vra ook streng optrede oor enige geweld dring aan dat vreedsame byeenkomste beskerm word moet word.
# En rugby: Die voormalige Springbok-losskakel Morné Steyn glo die Bok-afrigter Rassie Erasmus het nog ‘n meesterstuk opgedis deur die nommer tien-trui aan die Leeus se gereelde heelagter, Quan Horn, te gee vir vandag se wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha. Die 24-jarige het sover baie min wedstryde op losskakel gespeel, maar Steyn dink Erasmus wil hom waarskynlik verander in die volgende Willie le Roux, wat albei rolle doeltreffend kan vervul. Die Leeus se skopkonsultant sê Horn sal sommige aspekte moet verfyn, maar hy glo hy sal dit kan doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….