Nuus 09:00
BULLETIN 18 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sal vandag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord
# Die regering ken 12,3-miljard-rand aan munisipaliteite toe
# En die VSA hou rentekoerse vir die vierde agtereenvolgende keer onveranderd
# Adjunkpresident Paul Mashatile beantwoord vandag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies. Hy sal in sy hoedanigheid as voorsitter van die kabinetskomitee oor Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit, en leier van Regeringsake in die Parlement, maatreëls uiteensit om korrupsie in die polisie op te spoor en te voorkom. Hy sal ook die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade en die Nasionale Vervolgingsgesag se regstellende maatreëls na aanleiding van die Madlanga-kommissie verduidelik. Mashatile sal ook vrae beantwoord oor onwettige migrasie, die grondhervormingsprogram en die Nasionale Watersekerheidsplan.
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê die regering verskerp pogings om die land se water- en sanitasie-probleme aan te spreek. Die regering het in die huidige boekjaar 12,3-miljard-rand se infrastruktuur-toelaes aan munisipaliteite toegeken. Die doel is om watersekerheid te verbeter, verouderde infrastruktuur op te gradeer en toegang tot betroubare dienste in alle provinsies uit te brei. Majodina erken dat baie gemeenskappe deurloop onder wateronderbrekings, rioolstortings, vervalle watersuiweringstelsels en ernstige waterverliese:
# Die munisipaliteit van eThekwini en regeringsdepartemente, insluitend Binnelandse Sake, het op ‘n 72-uur plan ooreengekom om die prosessering en repatriasie van buitelanders sonder dokumente te bespoedig. Duisende Malawiërs het te midde van betogings teen onwettige immigrante by Sherwood Hall in Durban gekamp terwyl hulle gewag het om na hul tuisland teruggestuur te word. Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, sê die toepassing van die plan sal help om die situasie te stabiliseer en humanitêre en openbare gesondheidsrisiko’s te verminder:
# Die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwebank, Kevin Warsh, sê hy stel ‘n hervormingsagenda bekend wat sal bepaal hoe die sentrale bank sy monetêre beleid bestuur en kommunikeer. Federale goewerneurs het daarvoor gestem om die rentekoers vir die vierde opeenvolgende vergadering bestendig te hou met die riglyn-uitleenkoers van tussen 3,5- en 3,75-persent. Warsh, wat Jerome Powel vervang het, sê hulle is in staat om prysbestendigheid tot op die beoogde twee-persent te bring:
# Sokker: Engeland het hul veldtog om die eerste keer in 60 jaar ‘n Wêreldbeker-titel te wen met ʼn 4-2-sege teen Kroasië in hul Groep L-wedstryd in Dallas afgeskop. Kaptein Harry Kane het twee doele aangeteken terwyl Jude Bellingham en Marcus Rashford Kroasië se twee gelykmakers in die tweede helfte uitgekanselleer het. In Houston het die Demokratiese Republiek die Kongo se sterk verdediging tot ʼn gelykoptelling van een elk teen Portugal gelei. Verder het Caleb Yirenkyi van Ghana in die 95ste minuut ʼn wendoel aangeteken om Panama hul heel eerste Wêreldbeker-punt in Toronto, Kanada, te ontsê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-312-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….