Nuus 09:00
BULLETIN 14 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder beveel Gauteng Gesondheid om die Tembisa-hospitaalrekords vry te stel
# Statistiek SA sê sterk groei in platinum versterk mynbouproduksie
# En krieket: ‘n Nederlaag vir die Protea-vroue in die T20-Wêreldbeker-openingswedstryd teen Australië
# Die Gautengse Departement van Gesondheid is deur die Inligtingsreguleerder gelas om rekords en ouditverslae wat verband hou met die beweerde verkrygingskandaal van 2,3-miljard-rand by Tembisa-hospitaal te oorhandig. Die uitspraak volg op ‘n hofaansoek deur News24 wat toegang tot dokumente, insluitend kontrakte en betalings, versoek het. Die statutêre waghond vir databeskerming en toegang het die hospitaal tien werksdae gegee, anders kan hulle strafregtelik vervolg word. Die saak het aansienlike openbare belang uitgelok te midde van bewerings van korrupsie, finansiële wanbestuur en die dood van die fluitjieblaser, Babita Deokaran.
# Die Nasionale Tesourie het die tydperk vir openbare kommentaar vir die konsepregulasies vir openbare verkryging van 2026 tot 15 Julie verleng. Die regulasies is in April vir kommentaar gepubliseer ter ondersteuning van die inwerkingstelling van die Wet op Openbare Verkryging van 2024. Die Tesourie sê die verlenging volg op versoek deur belanghebbendes. Hy erken ook die ingewikkeldheid van die voorgestelde regulasies. Die wetgewing is deur president Cyril Ramaphosa onderteken en moet ‘n enkele raamwerk vir openbare verkryging vestig. Die Tesourie vra die publiek om die ekstra tyd te benut om insette te lewer.
# Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die Stad Kaapstad beplan om sy eie Metropolisie-speureenheid te stig om misdaadbestrydingpogings te versterk. Tydens die bekendstelling van sy herverkiesingsveldtog het Hill-Lewis gesê baie gemeenskappe word in die steek gelaat weens te min hulpbronne, swak leierskap en korrupsie. Hy sê die voorgestelde eenheid sal sake onafhanklik ondersoek en help om suksesvolle skuldigbevindings van misdadigers te verseker:
# Statistiek Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in April met 8,2-persent op ‘n jaargrondslag gestyg. Die groei is hoofsaaklik gedryf deur sterk vertoon in platinumgroepmetale, mangaanerts en chroomerts. Steenkoolproduksie het egter afgeneem en die algehele produksie benadeel. Juan-Pierre Terblanche van Statistiek SA sê mineraalverkope het met 30-persent op ‘n jaar grondslag gestyg, ondersteun deur hoër pryse en sterker produksie in sleutelkommoditeite:
# En ten slotte sportnuus:
# Krieket: Phoebe Litchfield se 50-tal en die Australiese draaiboulers het Suid-Afrika gister ‘n groot pak slae van 65 lopies gegee in hul eerste Groep 1 T20 Wêreldbeker-wedstryd op Old Trafford in Manchester. Litchfield het ‘n vinnige 50 van 24 balle met nege viere en ‘n ses gemoker met Australië wat 172-8 aangeteken het nadat Sophie Molineux die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. Hierna is die Protea-vroue heeltemal oorrompel en vir slegs 107 in 16,4 boulbeurte uitgehaal. Suid-Afrika se volgende groepwedstryd is Woensdagaand teen Pakistan op Edgbaston.
# En sokker: Switserland het gisteraand 1-elk gelykop teen Katar in hul 2026 FIFA Wêreldbeker-wedstryd op die San Francisco Bay Arena-stadion gespeel. Dit het gelyk of die rooikruis-span gaan wen, maar in die laaste minuut het Katar se Boualem Khoukhi die gelykmaker aangeteken. Die uitslag laat al vier spanne in Groep B gelyk op een punt elk nadat die mede-gasheer Kanada Vrydag met 1-elk teen Bosnië en Herzegovina gelykop gespeel het. In Groep C het Marokko en Brasilië 1-elk gelykop gespeel, terwyl Skotland vir Haïti met 1-0 geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….