Nuus 09:00
BULLETIN 9 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verleng die sperdatum vir die Eskom-herstruktureringsverslag
# Nog vyf senior polisiebeamptes is geskors oor die omstrede Medicare24-tender
# En die Padvragvereniging sê die afskryf van alle e-tolskuld is ‘n oorwinning
# President Cyril Ramaphosa het die sperdatum vir ‘n verslag deur die Eskom Herstruktureringstaakspan tot die einde van hierdie maand verleng. Die verslag moet kyk na die vestiging van Suid-Afrika se onafhanklike transmissiestelseloperateur. Die taakspan se werk fokus op die vestiging van ‘n volledig onafhanklike, staatsbeheerde transmissiestelseloperateur wat transmissiebates sal besit en beheer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die taakspan se werk word in twee fases verdeel. Die eerste is die vestiging van die operateur, en die tweede behels die ontwikkeling van ‘n volledige implementeringsplan:
# Nog vyf senior polisiebeamptes is geskors oor die omstrede Medicare24-tender van 360-miljoen-rand wat met die georganiseerde misdaadverdagte Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word. Dit volg na die skorsing van nege ander polisiebeamptes Vrydag, wat lede was van die tender-evalueringskomitee wat die tender aan Matlala toegeken het. Die getal geskorste beamptes staan nou op 14. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag is Tesourie-regulasies oortree, en Matlala en Medicare24 is deur die tenderkomitee bevoordeel. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê interne departementele prosesse is tans aan die gang.
# Die Padvragvereniging verwelkom die Kabinet se besluit om die afskrywing van alle uitstaande en onbetaalde geskiedkundige e-tolskuld in Gauteng amptelik goed te keur. Alhoewel die omstrede e-tol-seinbrûe in April 2024 afgeskakel is, was motoriste volgens wet verplig om alle fakture van voor die afsnydatum te betaal. Die bedrag wat afgeskryf is, beloop sowat 29-miljard-rand aan uitstaande en onbetaalde skuld. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê dit bied groot verligting aan motoriste:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, is bekommerd oor hernieude aanvalle in die Midde-Ooste. Iran het Sondag missiele op Israel afgevuur uit vergelding vir ‘n aanval op die Libanese hoofstad, Beiroet. Israel het Maandagoggend reageer met teenaanvalle op Iranse militêre teikens. Dit is die eerste gevegte tussen die twee lande sedert ‘n skietstilstand in April gesluit is. Die adjunkwoordvoerder van die VN, Farhan Haq, sê alle partye word gevra om hulself te weerhou van enige optrede wat ‘n reeds onbestendige situasie verder kan aanwakker:
# Sokker: Die Somaliese skeidsregter, Omar Artan, gaan die Wêreldbeker misloop nadat hy toegang tot Amerika geweier is. Die 34-jarige Artan moes na Turkye terugvlieg nadat hy by die Miami Internasionale Lughawe voorgekeer is. Amerika se Doeane- en Grensbeskerming sê Artan is met sy aankoms in Amerika weer ondersoek en is weens kommer oor keuring verbied om die land binne te gaan. FIFA sê hy is nie betrokke by gasheerlande se immigrasieprosesse nie en is in kennis gestel dat Artan se status tans onveranderd bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-806-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….