Nuus 09:00
BULLETIN 7 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bly verbind tot gesonde openbare finansies
# Minister Steenhuisen sê die regering en landboubesighede moet nouer saamwerk om meer hulp vir opkomende boere te bied
# En rugby: Leinster weerstaan die Stormers se taai verdediging en dring deur na die eindstryd teen die Bulle
# Die regering sê hy bly verbind tot gesonde openbare finansies en om strukturele hervormings in te stel wat hoër en meer inklusiewe ekonomiese groei en beleggersvertroue sal ondersteun. Die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Duncan Pieterse, sê verbeterde staatskredietgraderings help om leningskoste vir die regering, ondernemings en huishoudings te verlaag en hou tasbare voordele vir gewone mense in. Hy sê Suid-Afrika sal nog ‘n tydjie neem om sy beleggingsgraad-kredietgradering te herwin, maar vir die eerste keer in meer as ‘n dekade is daar duidelike tekens in die verandering van ‘n negatiewe graderingsneiging.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die landbousektor moet die leiding neem om vennootskappe tussen die openbare en private sektore om doeltreffendheid te herstel en die uitvoermark te vergroot. Steenhuisen sê die regering, finansiële instellings en landboubesighede moet opkomende boere beter ondersteun en in kommersiële waardekettings integreer. Hy sê dit sluit in die uitbreiding van die gebruik van kommoditeitsgesteunde lenings, pakhuisontvangstelsels, finansieringswaarborge en voorraadgesteunde fasiliteite wat boere in staat stel om geverifieerde kommoditeitsvoorraad en produktiewe kontantvloei saam met tradisionele vorme van kollateraal te benut.
# Cosatu het die aanstelling van die Suid-Afrikaanse Poskantoorraad verwelkom. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê die Poskantoor is vir te lank toegelaat om feitlik ineen te stort. Hy sê benewens die Poskantoor se versuim en onvermoë om met strukturele verskuiwings in die pos- en kommunikasiesektor tred te hou, het die afwesigheid van toegewyde en doelgerigte leiers grootliks tot die geweldige agteruitgang bygedra:
Die DA het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, skriftelik versoek vir ‘n debat van nasionale belang oor President Cyril Ramaphosa se versuim om die Waterkrisis-aksieplan vir openbare ondersoek uit te reik. Stephen Moore van die party sê die president het die sperdatum vir die aankondiging van die Nasionale Waterkrisis-aksieplan misgeloop. Hy sê die president kan nie maande lank valse beloftes aan Suid-Afrikaners maak sonder om aanspreeklik gehou te word nie:
# Rugby: Die verdedigende kampioene Leinster het Saterdagaand op die Aviva-stadion in Dublin die Stormers se verdedigingsaanslag oorleef en die spannende Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd met 20 -11 beklink. Dit beteken ‘n herhaling van verlede seisoen se eindstryd teen die Bulle op Croke Park. Die Stormers het ondanks aanhoudende druk, sterk teenstand gebied en was tot kort voor die laaste tien minute nog steeds in ‘n goeie posisie. Hul kanse is egter geknou toe hulle iin die laaste tien minute met 13 spelers moes klaarkom en Leinster met ‘n verdoelde drie die wedstryd beklink het.
En laastens, ander rugbynuus: Die Springbok-sewesspan het ‘n wonderlike kwarteindstrydoorwinning oor Fidji by die Bordeaux-sewes behaal, net nadat hulle gehoor het dat hulle die HSBC-wêreldkampioenskap gewen het en as die beste sewesspan ter wêreld gekroon is. Die Blitsbokke speel vanmiddag teen Frankryk in ‘n halfeindstryd in die Bordeaux-sewes maar die uitslag is onbelangrik, aangesien hulle reeds die wêreldkampioene is nadat Frankryk hul naaste mededingers, Australië, met 26-0 in hul kwarteindstryd verslaan het. Dit het die Blitsbokke los voor op algehele punteleer geplaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….