Nuus 09:00
BULLETIN 2 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EU ondersteun energie-oordrag-beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika
# Die ANC Veteraneliga veroordeel aanvalle op buitelandse burgers
# En Olimpiese Spele: Die bouwerk aan die Brisbane-stadion vir 2032 het begin
# Die Europese Unie sê hy wil ‘n bestendige, voorspelbare en bemagtigende omgewing skep vir volhoubare groei in Suid-Afrika. Die EU hou vandeesweek ʼn nuwe soort beleggingsveldtog in Johannesburg, Kaapstad en Durban. Dit is gemik op die beskikbaarmaking van kapitaal volgens die 2025 EU-SA skoon handels- en beleggingsvennootskap om die land se Billike Energie-oordrag te ondersteun. Die EU-ambassadeur in Suid-Afrika, Sandra Kramer, sê 200 maatskappye en tien finansiële instellings neem aan die veldtog deel:
# Die ANC-veteraneliga het kommer uitgespreek oor dreigemente teen en aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika. Dit kom te midde van toenemende landwye betogings teen onwettige immigrante. Die betogers, insluitend March and March-lede, het 31 Junie as sperdatum gestel waarop ongedokumenteerde buitelanders Suid-Afrika moet verlaat. Die liga se president, Snuki Zikalala, sê hulle vra ʼn proaktiewe reaksie wat behoorlike toepassing van immigrasie- en arbeidswette insluit:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê Eskom het daarin geslaag om krag te herstel na 92-persent van die gebiede wat deur verlede maand se verwoestende storms geraak is. Gebiede soos Witzenberg, Noordhoek-plase, Fisantehoek en Stanford-plase is steeds sonder krag. Winde sê hy erken en verstaan die frustrasie van inwoners wat langdurige kragonderbrekings moes verduur ten volle:
# Rusland het gisteraand en tot in die vroeë oggendure ‘n hewige hommeltuig- en missielaanval op die Oekraïnse hoofstad Kiëf uitgevoer, met minstens vier mense dood en meer as 20 beseer. Dit volg na ‘n waarskuwing verlede week deur Moskou dat hy van plan is om sistematiese aanvalle op teikens in Kiëf uit te voer, in reaksie op ‘n hommeltuigaanval op ‘n hostel in Oekraïne se Russies-beheerde Loehansk-streek, waarin 21 mense dood is. Die burgemeester van Kiëf, Vitali Klitschko, sê twee hoë woonstelgeboue is getref en mense is moontlik onder die puin vasgekeer.
# Olimpiese Spele: Werk aan Brisbane se nuwe stadion het begin nadat Australiese inheemse en omgewingsgroepe dae van protesoptogte beëindig het. Die premier van Queensland, David Crusafulli, het die eerste sooi by Victoria Park gespit en dit ‘n mylpaal-oomblik in die aftelling na die wêreldwye pronkstuk in 2032 genoem. Hy beskryf die stadion as die stad se polsende sport-, kulturele en groen hart en ‘n plek waarop alle inwoners van Queensland trots kan wees. Die stadion sal 63-duisend toeskouers huisves en sal die openings- en die afsluitingseremonie aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-788-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-506-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….