Nuus 09:00
BULLETIN 1 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die Konferensie van Linkse Organisasies toon progressiewe magte in Suid-Afrika bly veerkragtig
# Die Parlement begin met ‘n openbare deelnameproses oor die etiese kode en openbaarmaking van ledebelange
# En tennis: Fonseca en Zverev is deur na Franse Open se kwarteindronde met Swiatek uitgeskakel
# Die MK-party sê die Konferensie van Linkse Organisasies het getoon dat progressiewe magte steeds veerkragtig is en ‘n alternatiewe toekoms vir Suid-Afrika kan vorm. Die konferensie se doel was om koördinasie, eenheid in aksie, politieke opvoeding en georganiseerde strydpogings tussen linkse en werkersklas-instellings te versterk. Die MK Party se tweede adjunkpresident, Tony Yengeni, het die belangrikheid van eenheid beklemtoon, maar sê dit beteken nie dat beginsels prysgegee kan word nie. Hy sê ideologiese diversiteit is ook nie ‘n verskoning vir verlamming en eindelose interne konflik nie:
# Die Parlement se Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange het ooreengekom oor ‘n openbare deelnameproses in ‘n poging om openbare vertroue in die instelling te versterk. Dit is deel van die omvattende hersiening van die Parlement se Kode vir Etiese Gedrag en Openbaarmaking van Ledebelange, asook die Uitvoerende Etiekkode. Die medevoorsitter van die komitee, Henni Britz, sê die huidige kodes en etiese raamwerke bevat areas wat verbeter moet word. Hy sê die finansiële verhoudings, digitale invloed en openbare verwagtinge het aansienlik ontwikkel, wat die hersiening noodsaaklik en tydig maak.
# Die Stad Johannesburg het die besluit van die Johannesburgse aandelebeurs verwelkom om die metro se genoteerde skuldinstrumente wat vroeër opgeskort is, weer te herstel. Dit volg na die indiening van die metro se jaarverslag vir die 2024/2025-boekjaar vroeër vanjaar, wat ‘n belangrike regulatoriese vereiste nagekom het met die stad wat nou ten volle voldoen aan die JSE se skuldnoteringsvereistes. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê die herstel bevestig dat Johannesburg sy statutêre en regulatoriese verpligtinge nakom:
# Colombia se presidensiële verkiesing gaan nou oor na ‘n herstemming nadat die verregse prokureur, Abelardo de la Espriella, Sondag die eerste ronde gewen het. Die buitestander en Donald Trump-bewonderaar het 43.74-persent van die stemme gewen, wat minder is as die absolute meerderheid wat nodig is vir ‘n algehele oorwinning. Die linkse kandidaat, senator Iván Cepeda, was tweede met 40.90-persent van die stemme. Die twee kom op 21 Junie in ‘n tweede ronde teen mekaar te staan. President Gustavo Petro, wat Cepeda ondersteun, sê hy aanvaar nie die voorlopige uitslag nie en beweer daar was onreëlmatighede met die stemmery.
# Tennis: Die 19-jarige Brasiliaan Joao Fonseca het sy oorwinning teen Novak Djokovic in die Franse Ope opgevolg deur die tweemalige finalis Casper Ruud van Noorweë uit te skakel. Hy is deur na die kwarteindstryd en kom nou teen die Tsjeg Jakub Mensik te staan. Alexander Zverev van Duitsland het Jesper de Jong van Nederland uitgeskakel. In die vroue-afdeling het Marta Kostyuk van Oekraïne die viermalige kampioen, Iga Swiatek van Pole in skoon stelle gewen. Sy kom nou teen haar landgenoot Elina Svitolina in die kwarteindstryd te staan nadat sy Belina Bencic geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-515-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….