Nuus 09:00
BULLETIN 26 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga besweer die vrese oor moontlike betogings op 30 Junie
# Minister Steenhuisen sê die regering ondersteun ‘n gekoördineerde publiek-private benadering
# En Rusland dreig met ‘n nuwe vlaag van aanvalle op Kiëf
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê Suid-Afrikaners het ‘n grondwetlike reg om teen onwettige immigrasie te staak, maar waarsku betogings moet vreedsaam bly en die waardigheid en regte van buitelanders respekteer. Die teen-immigrasiegroep, die March and March-beweging beplan ʼn nasionale afsluiting vir 30 Junie, wat ook hulle sperdatum is waarop onwettige immigrante die land moet verlaat. Motshekga het die publiek verseker daar is geen rede tot kommer in aanloop tot die sperdatum nie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê hy weet van die Hooggeregshof in Pretoria se tussentydse hofbevel oor die verkryging en toediening van bek-en-klouseer-entstof. Die hof het beslis dat boere, voerkrale en melkplase self goedgekeurde entstof teen bek-en-klouseer kan verkry en privaat mag toedien afsonderlik van die staat se inentingskema en sonder die minister se toestemming. Steenhuisen sê die Artikel 10 Dieregesondheidskema bied reeds ‘n raamwerk vir deelname deur private rolspelers in die bedryf. Hy sê die regering het deurentyd ‘n gekoördineerde benadering tot bek-en-klouseer gehandhaaf.
# Die DA in die Wes-Kaap het die vlaag skietvoorvalle die naweek regoor die provinsie waarin 13 mense dood is, ten sterkste veroordeel. Die polisie ondersoek twee afsonderlike skietvoorvalle in Makaza, Endlovini en Harare op die Kaapse Vlakte waar ses mense binne enkele ure doodgeskiet is. Nog sewe is by Kayamandi in Stellenbosch doodgeskiet. Benedicta van Minnen van die DA sê die moordtogte dui op die afgryslike werklikheid wat wetstoepassing in die gesig staar:
# Rusland dreig met ʼn nuwe vlaag aanvalle teen die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, en het buitelandse burgers en diplomate aangesê om die stad te verlaat. Dit volg nadat Moskou die naweek ʼn nuwe hipersoniese ballistiese missiel afgevuur het in een van sy grootste aanvalle op die Kiëf-streek sedert die oorlog begin het. Vier mense is in die aanval dood. Rusland se ministerie van Buitelandse Sake sê die nuwe aanvalle teiken besluitneming- en bevelsentrums, asook hommeltuigfabrieke in die hoofstad. Oekraïne beskryf Rusland se dreigemente as skaamtelose afpersing.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê besprekings oor Wêreldbeker-bonusse vir Bafana Bafana-spelers moet nog gefinaliseer word. SAFA se adjunkpresident, Linda Zwane, sê hulle sal met spelers praat op die kamp voor die toernooi. Bafana het tans een bevestigde opwarmingswedstryd teen Nicaragua Vrydag op die Orlando-stadion. Zwane het beklemtoon dat geen kwessies onopgelos gelaat sal word voor die groep later die maand na Mexiko vertrek nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-612-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-534-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….