Nuus 09:00
BULLETIN 25 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen doen ‘n beroep op provinsies om inentings te bespoedig
# ActionSA sê Kieswetter is die regte persoon om die nuwe polisiepaneel te lei
# En motorsport: Antonelli wen die Kanadese Grand Prix
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, doen ‘n beroep op alle provinsiale departemente om in die komende weke soveel diere as moontlik in te ent. Dit volg nadat die eerste besending van 3,5-miljoen-dosisse entstowwe van Biogénesis Bagó in die land aangekom het. Dis die grootste enkele besending bek-en-klouseer-entstowwe wat Suid-Afrika nóg ingevoer het. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê om die siekte te oorwin, vereis ʼn verenigde nasionale poging deur die regering, die bedryf en landbougemeenskappe:
# ActionSA sê die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, is die regte persoon om as voorsitter van die nuwe Polisie-adviespaneel te dien. Die paneel se basiese mandaat is om vordering met die polisie se herstel-agenda te evalueer en die Madlanga-kommissie se aanbevelings vinnig in te stel. Die kommissie het getuienis aangehoor van korrupsie en misdadige infiltrering in die SAPD se hoër strukture. ActionSA sê Kieswetter is goed geplaas om die polisiediens te herbou en professioneel te maak, net soos hy die Inkomstediens tot ʼn bevoegde en gerespekteerde instelling herstel het.
# Die nooddienste-afdeling van die Stad Tshwane sê brandweerpersoneel het gister in ‘n opruimingsoperasie ná ‘n brand in die Plastic View informele nedersetting ‘n liggaam onder puin gevind. Die woordvoerder van die nooddienste, Nana Radebe-Kgiba, sê sowat 150 hutte is gister vernietig toe die brand in die nedersetting uitgebreek het. Sy sê die slagoffer kon nie betyds aan die vlamme onkom nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die gevaarvlak van die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republike die Kongo tot “baie hoog” opgeskuif. Altesaam 904 gevalle is nou reeds bevestig, terwyl 119 mense vermoedelik reeds daaraan dood is. Geen entstof bestaan teen die Bundibugyo-stam van die virus nie, wat ‘n sterftekoers van 30- tot 50-persent het, en van die Ituri-provinsie in die DRK na ander provinsies en die buurland Uganda versprei het. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê die voortdurende aanvalle in Ituri kniehalter pogings om mense na te spoor wat moontlik die siekte opgedoen het en sodoende infeksies betyds te kan opspoor vir ondersteunende sorg.
# Motorsport: Die Mercedes-bestuurder Kimi Antonelli het sy voorsprong in die Bestuurderskampioenskap tot 43 vergroot nadat hy die Kanadese Grand Prix gewen het. Dis die Italianer se vierde agtereenvolgende oorwinning. George Russell, wat in die eerste posisie weggespring het, het weens ʼn foutiewe krageenheid aan die wedren onttrek terwyl hy en spanmaat Antonelli sake uitgespook het. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, in sy Ferrari was tweede en Max Verstappen van Red Bull derde. Antonelli sê dis nie hoe hy wou wen nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-en-4-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….