Nuus 09:00
BULLETIN 23 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering veroordeel aanvalle op buitelandse burgers in Suid-Afrika
# Die DA sê misdaad moet SA se belangrikste nasionale prioriteit wees ná die nuutste misdaadstatistieke
# En: ‘n Groot verandering vir Gautrein-pendelaars met nuwe mobiele diens en makliker verbindings
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het aanvalle op buitelandse burgers in Suid-Afrika veroordeel en sê migrasie moet behoorlik bestuur word met slegs wetstoepassingsagentskappe wat die wet afdwing. Lamola het tydens die opening van die SAOG Ministers van Buitelandse Sake se ontmoeting in die Krugerwildtuin, Mpumalanga gepraat. Die minister sê niemand het die mag om wette in hul eie hande te neem nie. Hy sê dit is wetstoepassing se verantwoordelikheid nie dié van privaat burgers nie:
Intussen is die Departement van Binnelandse Sake tans besig met ‘n uitgebreide reeks openbare raadplegings rakende die Zimbabwe- en Lesotho-vrystellingspermitte. Die departement hou ná vorige regsuitdagings streng by die hof se opdrag dat enige finale besluit eers ná ‘n streng en inklusiewe proses geneem moet word. Die hoofdoel van die raadplegings is om betekenisvolle insette van alle betrokke belanghebbendes in te samel. Die departement sê dit sluit in om die moontlike uitwerking van toekomstige besluite op permithouers, hul afhanklikes en die breër Suid-Afrikaanse publiek te beoordeel.
# Die DA sê misdaad moet die belangrikste prioriteit wees nadat die jongste nasionale misdaadstatistieke volgehoue hoë vlakke van moord, verkragting en georganiseerde misdaad getoon het. Die party voer aan ná agt jaar van president Cyril Ramaphosa se administrasie, is geweldmisdaad steeds uitermate hoog en die regering kan steeds nie daarin slaag om burgers te beskerm nie. Die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis, dring aan die regering moet leefstyloudits vir die senior polisieleierskap instel om korrupsie aan te pak en polisiëring te verbeter:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê daar is nie langer wegkomkans vir stropers nie. Dit volg ná twee operasies die week in die Wes-Kaap, waartydens 500-kilogram perlemoen, ter waarde van ongeveer 900-duisend-rand, tydens klopjagte in Simonstad en Grabouw gekonfiskeer en verskeie mense aangekeer is. Aucamp waarsku pogings om die land se mariene hulpbronne te beskerm duur voort, en stropers sal met die volle mag van die wet te doen kry:
# Die Gautrein-bestuursagentskap gaan ‘n nuwe aanvraagdiens bekendstel om toegang tot stasies in Gauteng te verbeter. Die toepassing-gebaseerde stelsel, genaamd Gau Express, sal pendelaars intyds met bestuurders verbind om eerste- en laaste-myl-reisuitdagings aan te spreek. Albi Modise van die agentskap sê die diens is daarop gemik om reise na en van Gautrein-stasies geriefliker, betroubaarder en veiliger te maak:
# En boks: Die aksieheld, Jason Statham het gehelp met Rico Verhoeven se oorgang van skopboks na tradisionele boks, en die Nederlander kry vanaand ‘n kans om ‘n WBC-wêreldtitel te verower. Hy kom teen die Oekraïnse swaargewiglegende, Oleksandr Usyk in Giza, Egipte te staan. Verhoeven het Statham in 2024 tydens ‘n geveg in Las Vegas ontmoet, en was van mening dat hy waarskynlik baie van die boksers wat daar was, sou kon klop. Statham het toe sy vriend en die bekende Saoedi-bokspromoter, Turki Alalshikh, van Verhoeven vertel, wat uiteindelik tot die geveg teen Usyk gelei het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….