Nuus 09:00
BULLETIN 22 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile veroordeel die teen-migrante-betogings en xenofobiese geweld
# Minister Steenhuisen verwelkom die verslapping van voedselinflasie
# En ‘n woedende skare steek twee hospitaaltente aan die brand waar Ebola-pasiënte behandel word
# Adjunkpresident Paul Mashatile veroordeel die onlangse vlaag betogings teen migrante deur teenmigrante-groepe soos March and March. Hy het gister vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord en gewaarsku dat immigrasie-sake deur die oppergesag van die reg hanteer moet word en nie deur massa-geweld of gepeupelreg nie. Mashatile sê wetstoepassingsagentskappe moet immigrasiekwessies volgens wet hanteer:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen het die verlaging van voedselinflasie tot die laagste vlak in 14 maande verwelkom, maar hy waarsku dat stygende brandstofpryse Suid-Afrika se landbousektor bedreig. Volgens die inligting van die Verbruikersindeks het inflasie op kos en nie-alkoholiese drank in April tot 2,9-persent gedaal teenoor 3,6-persent in Maart. Steenhuisen sê diesel is noodsaaklik vir Suid-Afrikaanse boere en maak tussen 11- en 18-persent van die totale produksie en logistieke koste uit. Hy sê produsente moet teen globale energieskokke beskerm word aangesien dit in die langtermyn nodig is vir voedselveiligheid.
# Die Oos-Kaapse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur nadat vier afsonderlike moorde gister in Walmer, Gqeberha, aangemeld is. Die liggame van ses mans tussen 23- en 56-jaar is met talle wonde in verskillende dele van Walmer aangetref. Die polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê ondersoekbeamptes probeer vasstel of die moorde met mekaar verband hou:
# Betogers het gister twee hospitaaltente waar Ebola-pasiënte in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo behandel word, aan die brand gesteek. Dit volg nadat ʼn jong man wat aan die siekte dood is, se familie verbied is om sy liggaam weg te neem en te begrawe. Ses pasiënte het ten tyde van die aanval in die tente behandeling ontvang. Die DRK het 160 Ebola-sterfgevalle aangemeld. Die Wêreldgesondheidsorganisasie loof die veilige en waardige begrafnisse van Ebola-slagoffers waar opgeleide spanne met beskermende toerusting die liggame hanteer.
# Tennis: Die verdedigende kampioen Coco Gauff sal haar Franse Ope-titel begin verdedig teen die mede-Amerikaner Taylor Townsend. Haar grootste uitdaging tot die kwarteindstryd is haar landgenoot Amanda Anisimova, wat nog nie weer sedert die Miami Ope gespeel het nie. Die wêreld se nommereen-speler Aryna Sabalenka wat steeds haar eerste Roland Garros-triomf wil behaal, sal in die eerste ronde teen Jessica Bouzas Maneiro van Spanje te staan kom. Die viermalige Frans Ope-kampioen Iga Swiatek van Pole sal open teen die Australiese promotorskeuse Emerson Jones en Naomi Osaka van Japan sal teen Laura Siegemund van Duitsland te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-801-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-529-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….