Nuus 09:00
BULLETIN 21 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Anti-Apartheid Movement for Palestine veroordeel die aanvalle op die Global Sumud Flotilla-bote
# Die Vryemarkstigting sê wettige weerstand teen NGV weerspieël ‘n kommer oor staatsbeheer
# En die DA beskuldig Morero dat hy Johannesburg in ‘n bendeparadys omskep het
# Die Suid-Afrikaanse tak van die Anti-Apartheid Movement for Palestine veroordeel Israel se aanvalle op bote wat deel is van die Global Sumud-flottielje. Ses Suid-Afrikaners is Maandag deur Israelse magte aangekeer nadat die flottielje in internasionale water voorgekeer is terwyl hulle probeer het om deur die Gaza-blokkade te breek en hulp te verleen. Die beweging se woordvoerder, Dudu Mahlangu-Masango, sê die Suid-Afrikaanse regering moet alles moontlik doen om die Suid-Afrikaners se vrylating te bewerkstellig:
Intussen het die MK-party ook ‘n beroep op die regering gedoen om dringend in te gryp. Die ses Suid-Afrikaners was deel van ‘n groep van sowat 100 aktiviste wat probeer het om van Turkye na Gaza te vaar om hulp te verleen. Die MK-party sê Israelse magte se voortgesette aggressie teen humanitêre inisiatiewe wys hul toenemende minagting van internasionale reg, humanitêre beginsels en basiese menswaardigheid.
# Die Vryemarkstigting sê hy het herhaaldelik gewaarsku dat Nasionale Gesondheidsversekering onbekostigbaar, ongrondwetlik, ekonomies vernietigend en strydig met vryheid van keuse in gesondheidsorg is. Die Konstitusionele Hof het Artikel 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsorg ongrondwetlik verklaar. Hierdie afdelings hou verband met die staat se beheer oor waar gesondheidsorg-praktisyns of praktyke mag wees. Die stigting sê die toenemende regsweerstand teen die NGV weerspieël groeiende kommer oor die uitbreiding van staatsbeheer oor gesondheidsorg en die langtermyngevolge vir pasiënte, mediese beroepslui en die ekonomie.
# Die DA sê die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, versuim om op te tree teen burgemeesterskomiteelede wat ernstige aantygings, insluitend klagtes van misdaad en bewerings van intimidasie en geweld in die gesig staar. Die party voer aan die burgemeester se stilswye skep die indruk dat lede van sy uitvoerende gesag bo die wet is en polities beskerm word. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die stad se leierskap word oorskadu deur skandale in plaas daarvan om watertekorte, kragonderbrekings en mislukte infrastruktuur aan te spreek:
# Sokker: Aston Villa moes 30 jaar wag voordat hulle weer die trofee omhoog kon hou nadat hulle Freiburg met 3-0 geklop het om die Europa Liga in Istanboel te wen. Youri Tielemans en Emi Buendia se doele in die eerste helfte, gevolg deur Morgan Rogers se doel in die tweede helfte het Villa gehelp om die Europa Liga-beker te wen, 44 jaar na hul sege in 1982. Villa se afrigter, Unai Emery wat die Europa Liga nou vyf keer gewen het, sê hierdie kompetisie is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-933-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-536-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….