Nuus 09:00
BULLETIN 20 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vertrek op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Botswana
# Die regering versterk kinderbeskermingsmaatreëls
# En die FBI onthul nuwe besonderhede oor die tienerverdagtes in die San Diego-moskeeskietery
# President Cyril Ramaphosa vertrek vandag op ‘n staatsbesoek van twee dae aan Botswana vir die sesde sitting van die Suid-Afrika/Botswana Bi-nasionale Kommissie in Gaborone. Die basiese doelwit is om die bestaande bilaterale vennootskap tussen die twee lande te verdiep en te versterk. Suid-Afrika is Botswana se grootste handelsvennoot en verantwoordelik vir meer as 50-persent van die land se uitvoere. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het aan die SABC gesê hulle sal na verwagting vier ooreenkomste onderteken:
# Die waarnemende minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sindisiwe Chikunga, sê die regering is vasberade om die maatreëls te verskerp teen die seksuele uitbuiting van kinders, statutêre verkragting en aanlyn dreigemente teen kinders. Sy het die departement se begroting van 302-miljard rand vir die 2026/2027 finansiële jaar gister in die Parlement ter tafel gelê. Chikunga het beklemtoon dat dit belangrik is om kwesbare mense te beskerm en gemeenskappe oor die hele Suid-Afrika heen te versterk:
# Die Departement van Elektrisiteit en Energie sê hy stuur sy pas opgestelde elektrisiteitprysbeleid na die Kabinet vir verwerking en openbare kommentaar. Die beleid gee ʼn hersiene raamwerk van die tariefbepaling, groothandelpryse, koste om stelsel te gebruik, munisipale koste van voorsiening en maatskaplike beskerming. Eskom het in April pryse vir regstreekse klante met 8,76-persent verhoog. Hy het ook goedkeuring gekry om ʼn verhoging van nege-persent te hef op munisipaliteite se grootmaat-elektrisiteitsaankope. Die departement se adjunk-direkteur-generaal, Thabo Kekana, sê elektrisiteit moet bekostigbaar wees.
# Die polisie het die twee tieners wat betrokke was by die noodlottige skietvoorval by die Islamitiese sentrum van San Diego geïdentifiseer as die 17-jarige Cain Clark en 18-jarige Caleb Vasquez. Vyf mense, insluitend die twee aanvallers, is Maandag in die voorval dood. Die verdagtes is in ʼn voertuig naby die moskee aangetref waar hulle vermoedelik selfdood gepleeg het. San Diego se FBI-verteenwoordiger, Mark Remily, sê Clark en Vasquez het glo talle godsdienste en rassegroepe gehaat:
# Krieket: Die Rajasthan Royals het die Lucknow Super Giants met sewe paaltjies verslaan en hul kanse verbeter om die Indiese Premierliga se uitspeelronde te haal. Mitchell Marsh het 96 van 57 balle bygedra om die Super Giants se telling in hul 20 boulbeurte op 220 vir vyf te staan te bring. Daarna het die 15-jarige Vaibhav Sooryavanshi 93 van 38 balle gemoker. Hy en kaptein Yashasvi Jaiswal het geopen met 75 lopies om die Royals in 19 boulbeurte en een bal tot oorwinning te lei. Die Royals is nou vierde met een rondte wedstryde wat oorbly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-733-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-467-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….