Nuus 09:00
BULLETIN 18 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane sê Suid-Afrika het vordering gemaak met volhoubare verstedeliking
# Die EFF veroordeel die Helen Suzman-stigting se hofsaak teen Malema
# En Donald Trump dreig Iran weer
# Die EFF sê die Helen Suzman-stigting se hofaansoek om Julius Malema uit die Regterlike Dienskommissie te verwyder, is polities gemotiveer. Die stigting voer aan die Parlement moet vasstel of Malema steeds bevoeg is om in die kommissie te dien, gegewe sy onlangse skuldigbevinding en sy herhaalde openbare aanvalle op die regstelsel. Volgens die EFF bevestig die tydsberekening dat dit deel is van ‘n breër politieke veldtog om die aandag weg te neem van president Cyril Ramaphosa se mislukkings en skandale.
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya het kommer uitgespreek oor die 30-miljoen-rand wat die metro jaarliks aan geskorste amptenare, waarvan baie senior bestuurders is, se salarisse bestee. Sy het aan eNCA gesê die geld word betaal aan senior amptenare wat geskors is in verband met die Rooiwal-watersuiweringsaanleg se tenderskandaal en ander 2023-gevalle. Moya sê terwyl geskorste amptenare geregtig is op die regte prosedure, moet die metro maniere vind om die tugprosesse meer doeltreffend af te handel:
# President Donald Trump van Amerika het Iran weer gewaarsku en sê die land “beter vinnig iets doen, anders gaan daar niks van hulle oorbly nie”. Dit kom te midde van berigte dat Amerika en Israel intens besig is met voorbereidings vir hernude aanvalle op Teheran nadat vredesonderhandelinge ʼn dooiepunt bereik het. Die Iranse regering sê op sy beurt Amerika het geen tasbare toegewings op sy jongste voorstelle gemaak nie. Dit sluit in dat die oorlog aan alle kante onmiddellik beëindig word en dat Amerika sy blokkade van Iranse hawens ophef.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het Marokko se AS FAR in die eerste deel van die CAF-kampioeneliga se eindstryd op Loftus Versfeld met 1-0 geklop. Aubrey Modiba se vryskop het The Brazilians ʼn effense voorsprong gegee voor die tweede deel Sondag in Rabat, Marokko, plaasvind. Sundowns het die CAF-kampioeneliga laas in 2016 gewen toe hulle die Egiptiese span, Zamalek, in totaal met 3-1 verslaan het om hul heel eerste vasteland-titel op te raap. Sundowns-afrigter Miguel Cardoso erken hulle moes meer doele aangeteken het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-763-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-530-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….