Nuus 09:00
BULLETIN 16 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA benoem sy lede vir die Phala Phala-ampsklagkomitee
# President Ramaphosa sê munisipaliteite moet die enjinkamer van Suid-Afrika se ontwikkeling word # En, adjunk-president Paul Mashatile woon die begrafnis by van die voormalige Botswana-president Festus Mogae
# Die DA het die name van vyf lede van die Nasionale Vergadering aan Speaker Thoko Didiza voorgelê vir die Phala Phala Ampsklagkomitee. Die party sal verteenwoordig word deur George Michalakis, Bax Nodada, Glynnis Breytenbach, Karabo Khakhau en Nazley Sharif. Khakhau en Sharif het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die ontslag van onderskeidelik die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, en die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. DA-woordvoerder Baxolile Nodada sê die party bly verbind tot grondwetlike toesig:
# President Cyril Ramaphosa sê munisipaliteite moet die enjinkamer van Suid-Afrika se ontwikkeling word. Hy het die Nasionale Raad van Provinsies se program wat die parlement na die mense in Noordwes neem, toegespreek, en gesê plaaslike regering speel ‘n sleutelrol in die lewering van basiese dienste en die ondersteuning van ekonomiese groei. Hy vra vir hervormings vir die verbetering van munisipaliteite se bestuur sodat hulle beter diens aan die gemeenskappe kan lewer en ontwikkeling kan dryf:
# Graan Suid-Afrika sê Suid-Afrika se stadige reaksie op globale handelsveranderinge plaas plaaslike koringprodusente onder toenemende finansiële druk. Die organisasie sê vertragings met die finalisering van tariefhersienings deur die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika het boere blootgestel aan swaar gesubsidieerde internasionale mededinging. Graan SA se voorsitter, Richard Krige, waarsku dat langdurige beleidsvertragings volhoubaarheid, winsgewendheid en voedselsekerheid ondermyn. Die groep doen ‘n beroep op ‘n vinniger, meer reaktiewe tariefstelsel om binnelandse graanproduksie te beskerm.
# Die Johannesburgse Maatskaplike Behuisingsmaatskappy sê sy ommeswaaistrategie bou spoed op, met bouwerk wat ná ‘n lang tydperk nou weer op dreef is op die Selkirk-behuisingsontwikkeling. Werk aan die projek het uiteindelik hervat, met die aanbring van pale wat tans aan die gang is as deel van die fondasiefase vir 558 beplande bekostigbare huureenhede. Die eerste fase sal 145 eenhede vir inwoners van streek B lewer. Bouwerk sluit tans fondasievoorbereidings in as deel van pogings om behuisingslewering in die stad te versnel.
# Adjunkpresident Paul Mashatile is vandag by die staatsbegrafnis van Botswana se voormalige president Festus Mogae by die Universiteit van Botswana in Gaborone. Mogae is verlede week op 86-jarige ouderdom oorlede. President Cyril Ramaphosa het hom beskryf as ‘n gerespekteerde leier wat demokrasie, goeie regering en streeksamewerking bevorder het. Mogae het van 1998 tot 2008 as Botswana se president gedien en later as ‘n Verenigde Nasies-klimaatsveranderingsgesant gewerk.
# En ten slotte tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner skuif nader aan die eindstryd van die Italiaanse Ope, nadat swaar reën sy halfeindstryd teen Daniil Medvedev gister onderbreek het. Die tuisgunsteling is voor met 6-2, 5-7, 4-2. Spel is gestaak nadat stortreën in Rome uitgesak het, en organiseerders het later aangekondig die wedstryd sal vandag hervat. Sinner hoop op ‘n sesde agtereenvolgende Meesters Een-duisend-titel. Die wenner sal teen Casper Ruud van Noorweë in die eindstryd te staan kom nadat die Noorweër ‘n oorweldigende oorwinning van 6-1, 6-1 oor Luciano Darderi van Italië behaal het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….