Nuus 09:00
BULLETIN 15 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bykomende aanklagte word teen korrupsie-beskuldigde Fannie Nkosi ingedien
# Die ANC verwelkom OKASA se standpunt oor swart ekonomiese bemagtiging
# En, Donald Trump sê president Xi het ingestem om nie militêre toerusting aan Iran te verskaf nie
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek se taakspan wat aanbevelings ondersoek, het bykomende klagtes van regsverydeling teen sersant Fannie Nkosi ingedien. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê na bewering is ‘n verdagte in November 2022 gearresteer vir besit van dagga, ongelisensieerde vuurwapens en plofstof. Sy sê volgens ondersoeke het Nkosi die oorspronklike dossier gevat onder voorwendsel dat dit ‘n opdrag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor was:
# Die ANC Studiegroep oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika se reaksie op die beleid op swart ekonomiese bemagtiging verwelkom. Okasa het formeel verklaar hy kan nie die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, se beleidverandering van Desember 2025 oor ekonomiese bemagtiging ondersteun sonder ‘n wysiging aan die Wet op Elektroniese Kommunikasie nie. Die ANC sê Okasa het gewys Artikel 9 instansies kan druk weerstaan en hul grondwetlike verpligtinge met integriteit nakom.
# AfriForum eis dat die Stad Johannesburg verduidelik hoe hy die voorgestelde verhoging van 65,6-persent in huishoudings se maandelikse watertariewe regverdig. Dit beteken die heffing styg nou tot 107-rand-74-sent per huishouding per maand. Huishoudelike gebruikers betaal tans 65-rand-08-sent, ongeag of hulle vooraf of ná gebruik betaal. AfriForum-woordvoerder Marais de Vaal sê munisipale heffings moet regverdigbaar, deursigtig, en op goeie finansiële beginsels geskoei wees:
# President Donald Trump van Amerika sê die Chinese leier, Xi Jinping, het gister tydens samesprekings ingestem om geen militêre toerusting aan Iran te verskaf nie. Beijing was in die 1980’s ʼn belangrike verskaffer van konvensionele wapens aan Iran. Hy het egter in 2015 oordragte gestaak na die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad Resolusie 2231 internasionale ondersoeke van sulke oordragte verskerp het. Trump het in ʼn onderhoud met Fox News gesê president Xi is ook daarteen gekant dat Iran kernwapens kry:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner het geskiedenis gemaak in die Italiaanse Ope deur Novak Djokovic se rekord van opeenvolgende wedstrydoorwinnings in ATP Meesters een-duisend toernooie te verbeter. Hy het Andrey Rublev van Rusland in die kwarteindronde verslaan vir sy 32ste opeenvolgende oorwinning. Sinner kom die halfeindronde teen Daniil Medvedev van Rusland te staan wat Martin Landaluce van Spanje afgereken het. In die vroue-afdeling is die Amerikaanse Coco Gauff deur na nog ‘n eindstryd nadat sy die Romeniër Sorana Cirstea geklop het. Sy kom nou teen Elina Svitolina van Ukraïne te staan wat met Iga Swiatek van Pole afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-926-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-613-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….