Nuus 09:00
BULLETIN 2 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister in die Presidensie sê die wetsontwerp oor die Nasionale Gesondheidsversekering kan vóór die verkiesing as wet bekragtig word
# Die regering vorder met die aanspreek van werkloosheid en skaars vaardighede onder jeug
# En, vordering is gemaak met die bestryding van verskeie veldbrande in die Kaapse Wynland
# Die Minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê President Cyril Ramaphosa kan die Nasionale Gesondheidsversekerings-wetsontwerp vóór vanjaar se algemene verkiesing onderteken. Beide huise van die Parlement het die omstrede wetsontwerp aanvaar en die president moet dit nou onderteken. Die doel van die wetsontwerp is eenvormige openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika. Ntshavheni sê ná die lesse van die Covid 19-pandemie moet die NGV-wetsontwerp dringend onderteken word om tydens die sewende administrasie volledig in werking te tree.
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Buti Manamela, het vordering uitgelig met aandag wat geskenk word aan werkloosheid en skaars vaardighede. Hy het tydens World Skills se Suid-Afrika-nasionale-kompetisie in Durban gepraat en gesê jongmense uit verskeie streke ding mee om meer as 200 ambagsvaardighede, met wenners wat sal deurdring na die World Skills-kompetisie in Frankryk in September. Manamela beklemtoon die rol wat die geleentheid speel in die aanleer van internasionale praktyke en die bevordering van onmiddellike indiensneming vir gegradueerdes deur werkplekplasings:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brandbestryders het gisteraand uitstekende vordering gemaak in die stryd teen brande in Worcester, Wolseley en Rawsonville. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die meeste brandlyne wat aktiewe brandbestryding vereis het, is onder beheer. Sy sê slegs die brandlyn teen die Brandvlei-berge in die rigting van die tronk vlam nog op:
# ‘n Gewese sagteware-ingenieur van die Amerikaanse geheimediens, Joshua Schulte, is 40 jaar tronkstraf opgelê omdat hy geklassifiseerde materiaal aan die fluitjieblasers WikiLeaks laat uitlek het. Amerika se departement van Justisie sê die 35-jarige het in 2017 sowat agt-duisend-761 dokumente laat uitlek. Dit was die grootste lekkasie van data in die CIA se geskiedenis. Hy het skuld ontken. Die Amerikaanse advokaat Damian Williams sê Schulte het sy land verraai deur van die mees brutale, afskuwelike spioenasiemisdade ooit in Amerika te pleeg.
# Rugby: Vier Junior Springbokke wat reeds hulle nasionale kleure ontvang het, Zachary Porthen, JF van Heerden, Litelihle Bester en Jurenzo Julius, is onder die 35 spelers wat van Maandag af die SA Rugby Akademie se program op Stellenbosch bywoon. Dit is om gereed te maak vir die internasionale seisoen wat die eerste Onder 20-rugbykampioenskap in Australië en Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap in Suid-Afrika insluit. Afrigter Bafana Nhleko sê hulle is tevrede met die groep se samestelling, naamlik 21 voorspelers en 14 agterspelers, en voeg by die harde werk sal nou in alle erns begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-966-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-54-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….