Nuus 09:00
BULLETIN 13 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die Openbare Beskermer moet in staat van beskuldiging geplaas word oor haar hantering van Phala Phala-saak
# Die Konstitusionele Hof verwerp bewerings dat die Wet op Vlugtelinge latere asielaansoeke heeltemal verbied
# En, minderheidspartye in Johannesburg sê die metro is op rand van institusionele ineenstorting
# Die MK-party het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek om ‘n ampsklag teen die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, in te stel. Die party beskuldig die Openbare Beskermer dat sy versuim het om op te tree oor bewyse wat met die Phala Phala-saak verband hou. Hy sê sy het nie moontlike misdadige optrede, misbruik van staatshulpbronne of onregmatige optrede waarby senior polisiebeamptes betrokke was, geïdentifiseer of verwys nie. Die party sê haar rol is om die publiek te beskerm en nie die politiekery van ʼn sittende president of politici nie.
# Die Konstitusionele Hof het bewerings verwerp dat die Wet op Vlugtelinge latere asielaansoeke heeltemal verbied. Regter Owen Rogers het bevind die Wet laat nuwe aansoeke toe waar daar ‘n beduidende verandering in omstandighede is. Rogers sê die Wet se beskerming teen die terugkeer van mense na gevaarlike omstandighede moet sentraal bly in die interpretasie van asielwette. Hy sê herhaalde aansoeke sonder nuwe bewyse kan steeds as misbruik beskou en deur owerhede geweier word:
# Minderheidspartye in die Stad Johannesburg waarsku die metro is gevaarlik naby institusionele ineenstorting en is verswelg deur politieke inmengery, uitvoerende wanfunksionering, administratiewe onbestendigheid en verslegtende finansiële bestuur. Die minderheidspartye is ʼn groepering van tien klein partye wat deel is van die ANC-geleide koalisieregering in die metro. Die groepering se woordvoerder, Yongama Zigebe, sê Johannesburg se verval, wat voorkombaar was, is verhaas deur roekelose politieke gedrag:
# Die Pentagon sê Amerika se oorlog teen Iran kos tot dusver 479-miljard-rand, wat hoër is as die syfer van 413-miljard-rand wat verlede maand aan die Kongres bekendgemaak is. Die Pentagon-tesourier, Jules Hurst, het aan die Huiskomitee vir Gewapende Dienste gesê die verhoging sluit die bygewerkte vervanging van toerusting, herstel- en bedryfskoste in. Hy sê die koste sluit nie skade aan Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste in nie. Begrotingskenners sê die geraamde koste van die konflik kan Amerikaanse belastingbetalers minstens 16,5-duisend-miljard-rand kos.
# Sokker: Orlando Pirates kan die Premiersokkerliga feitlik inpalm indien hulle Saterdag hul tuiswedstryd teen Durban City wen. Dit volg nadat die agtmalige kampioen Mamelodi Sundowns gisteraand in die Mamelodi-stadion in ‘n skoknederlaag van 3-2 die knie voor TS Galaxy moes buig. Masandawana eindig die seisoen met 68 punte in 30 kragmetings, terwyl Pirates op 65 staan met nog twee wedstryde oor. Die afrigter van Sundowns, Miguel Cardoso, sê hul moeilike wedstrydrooster het sy tol onder die spelers geëis:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-698-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….