Nuus 09:00
BULLETIN 10 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Defend Our Democracy, die IVP en die Raad van Kerke reageer op die Konstitusionele Hof‑uitspraak oor die Phala Phala‑saak
# Vladimir Putin sê hy dink die oorlog tussen Rusland en Oekraïne is byna verby
# En rugby: Die Haaie vermorsel Benetton 46-7 in hul Verenigde Rugbykampioenskap-stryd
# Defend Our Democracy doen ‘n beroep op alle Suid‑Afrikaners, insluitend politieke partye, om die onafhanklikheid van die regbank te respekteer en by sy beslissings te berus. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof gelas het die Nasionale Vergadering se hantering van die Phala Phala‑saak was ongrondwetlik en ongeldig. Andries Sibanyoni van Defend Our Democracy sê die oppergesag van die reg is die hoeksteen van demokrasie, en respek vir geregtelike onafhanklikheid moet te alle tye gehandhaaf word:
Intussen hou die Ikatha Vryheidsparty vol die Parlement is verplig om die uitspraak te respekteer en te implementeer. Die party se hoofsweep in die Nasionale Vergadering, Nhlanhla Hadebe, sê dit sluit in die totstandkomng van die toepaslike ampsklagkomitee, ingevolge grondwetlike voorskrifte. Hy sê die Hof het nou bevestig dat die Parlement in 2022 onwettig opgetree het toe hy die bevindinge van die onafhanklike paneel verwerp het:
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke respekteer ook die gesag en onafhanklikheid van die Konstitusionele Hof as die hoogste bewaker van konstitusionele demokrasie in Suid-Afrika. Sekretaris‑generaal, Mzwandile Molo, sê die Phala Phala‑uitspraak bevestig die belangrikheid van ‘n openbare ondersoekproses na die ampsklag-proses wat Suid-Afrikaners toelaat om die bewyse, beraadslagings en bevindings te aanskou en te verstaan, wat uiteindelik die stemme van Parlementslede beïnvloed.
# Die Russiese president Vladimir Putin het Saterdag gesê hy dink die oorlog in Oekraïne is byna oor. Sy opmerkings volg enkele ure ná sy belofte van oorwinning in Oekraïne tydens Moskou se mees afgeskaalde Oorwinningsdag-viering in jare. Putin sê hy is bereid om te onderhandel oor nuwe veiligheidsreëlings vir Europa en sy voorkeur-onderhandelingsvennoot is Duitsland se voormalige kanselier, Gerhard Schroeder. Daar is angstigheid in Moskou oor die oorlog in Oekraïne, waarin honderde duisende mense reeds dood is, groot dele van Oekraïne in puin gelaat is, met groot skade aan die Russiese ekonomie.
# Rugby: Jurenzo Julius het ‘n driekuns behaal in die Sharks se oorweldigende sege oor Benetton in hul Verenigde Rugbykampioenskap-ontmoeting gister in Durban. Die gashere het agt drieë gedruk en hul Italiaanse besoekers met 46-7 vermorsel. Die Haaie se kliniese spel en bereidwilligheid om genadeloos aan te val, was te veel vir die Italianers, en die Durbaniete het uiteindelik die vertoning gelewer waarop hul ondersteuners so lank reeds wag. Benewens Julius se drie drieë, was daar ook twee deur Edwill van der Merwe, met Siya Kolisi, André Esterhuizen en Litelihle Bester wat ook elk ‘n drie bygevoeg het.
# En, motorsport: Die verdedigende MotoGP-kampioen Marc Marquez sal die res van die Franse Grand Prix en die Katalaanse Grand Prix misloop ná ‘n besering Saterdag. Die Ducati-renjaer het in die laaste ronde van Saterdag se snelren op Le Mans van sy fiets geval. Ducati het in ‘n verklaring gesê die 33-jarige Spanjaard het die vyfde middelvoetbeen in sy regtervoet gebreek en vlieg na Madrid vir ‘n operasie. Jorge Martin van Aprilia het die snelren gewen, Francesco Bagnaia van Ducati was tweede en die kampioenskapvoorloper Marco Bezzecchi was derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….