Nuus 09:00
BULLETIN 9 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa vra die Parlement om sonder vrees of politieke vooroordeel op te tree in die Phala Phala-saak
# Ronald Lamola sê Ghana se besluit om xenofobiese aanvalle na die Afrika-unie te verwys is betreurenswaardig
# En tennis: Zverev is gemaklik deur na die derde ronde van die Italiaanse Ope maar Djokovic val vas teen die kwalifiseerder
Die Forum for South Africa doen ‘n beroep op die Parlement om sonder vrees of politieke vooroordeel op te tree in president Cyril Ramaphosa se Phala Phala‑saak, ten einde grondwetlike prosesse te handhaaf. Die Konstitusionele Hof het beslis die Parlement se hantering van die Phala Phala‑saak in 2022 was ongrondwetlik en ongeldig. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dié uitspraak is nog ’n duidelike herinnering dat grondwetlike aanspreeklikheid in Suid‑Afrika nie ‘n keuse is nie, maar verpligtend:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika vind Ghana se besluit betreurenswaardig, om xenofobiese aanvalle en kommer oor onreëlmatige migrasie na die Afrika-Unie te verwys. Ghana het ‘n debat versoek tydens die Afrika‑unie se halfjaarberaad in Kaïro, Egipte volgende maand, oor wat hulle noem xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika deur Afrika-nasionaliste. Die minister sê egter indien die AU dit gepas ag om dit op die agenda te plaas, sal Suid-Afrika ook ‘n agendapunt voorstel, oor die dryfkragte van migrasie.
# Statistieke Suid-Afrika berig elektrisiteitsopwekking het in Maart met 7,1-persent op ‘n jaargrondslag gedaal, terwyl elektrisiteitsverbruik met 3,5-persent gedaal het. Maandelikse elektrisiteitsverspreiding het egter ‘n effense toename in Maart getoon na geringe skommeling vroeēr. Tsholofelo Ditinti van Statistieke SA sê oor die algemeen toon data vir die eerste kwartaal van 2026 ‘n effense afname in elektrisiteitsopwekking en ‘n beskeie toename in verbruik in vergelyking met die vorige kwartaal:
# Gesondheidsowerhede wêreldwyd probeer dringend tientalle mense opspoor wat van ’n luukse passasierskip ontskeep het voordat ’n uitbreking van hantavirus ontdek is, en enigiemand wat sedertdien in noue kontak met hulle was. Sesgevalle is nou bevestig, insluitend drie sterftes, na ‘n uitbreking op die Nederlandse skip MV Hondius. Daar was aanvanklik 147 passasiers en bemanningslede van 28 lande aan boord van die skip, maar 34 het op St. Helena-eiland ontskeep. Die luukse bootvaart het in Argentinië begin en sal na verwagting op 10 Mei in Spanje se Kanariese Eilande aankom.
# Tennis: Alexander Zverev het Vrydag sonder probleme tot die derde ronde van die Italiaanse Ope deurgedring nadat hy sy landgenoot Daniel Altmaier gemaklik in skoon stelle, 7-5, 6-3, geklop het. Zverev speel tans uitstekend en was verlede naweek in die eindstryd in Madrid. Hy is aan die ander kant van die loting en sal dalk weer teen die oorweldigende gunsteling Jannik Sinner te staan kom. Die 29-jarige is vanjaar in vier meesters 1000-toernooie deur Sinner geklop en sal hard moet werk as hy wil voortbou op sy 2017- en 2024-titels in Rome.
Intussen is Novak Djokovic vroeg in die toernooi uitgeskakel nadat hy in die tweede ronde teen die kwalifiseerder Dino Prizmic vasgeval het. Sy vertoning laat nou vrae ontstaan oor sy fisiese toestand so kort voor Roland Garros. Djokovic, ‘n 24-malige Grand Slam-wenner, was na ‘n skouerbesering, terug in die laaste groot toernooi voor die Franse Ope, wat later vandeesmaand begin. In ‘n onderhoud ná die wedstryd het die Slowaakse legende gesê hy kan nie onthou wanneer laas die afgelope paar jaar hy nie fisiese probleme voor ‘n toernooi gehad het nie..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….