Nuus 09:00
BULLETIN 7 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê politieke finansiering vorm die mededingendheid van verkiesings
# SAFTU sê Ramaphosa moet ophou wegkruip terwyl sy ministers ernstige bewerings in die gesig staar
# En fisiese teen-semitiese aanvalle het in 2025 ‘n rekordhoogtepunt in die VSA bereik
# Die Verkiesingskommissie sê politieke finansiering bly een van die mees bepalende en betwiste dimensies van demokratiese regering. Die kommissie en die Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika, het ‘n spesiale artikel wat op politieke finansiering fokus, in die Journal of African Elections gepubliseer. Die kommissie se voorsitter, Mosotho Moepya, sê dit hanteer belangrike vrae oor wat verkiesingsintegriteit reg oor Afrika vorm. Dit sluit in korporatiewe befondsing van politieke partye, die volgehoue koop van stemme in die reg en praktyk, en die veranderende rol van staatsbefondsing:
# Die vakbondfederasie Saftu sê president Cyril Ramaphosa moet amptelik sê of hy nog vertroue het in die ministers van Maatkaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, en Sport Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie. Tolashe word beskuldig van misleiding van die Parlement oor onverklaarde voertuie wat die Chinese geskenk het, terwyl McKenzie aantygings van beweerde betrokkenheid by dwelmverwante georganiseerde misdaad in die gesig staar. Die woodvoerder van Saftu, Asive Dyani, sê hierdie bewerings vra deeglike ondersoek en openbare aanspreeklikheid:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê die Spesiale Ondersoekeenheid se befondsingsmodel beperk die eenheid se werksmag en vermoë om sy mandaat doeltreffend uit te voer. Die eenheid se toegekende befondsing van meer as 487-miljoen-rand vir 2026/2027 is aansienlik minder as sy bedryfsvereistes. Die verhouding tussen toelaag-inkomste en totale begrotingskoste neem af, van sowat 50- tot onder 40-persent. Die komitee sê die eenheid reageer op die president se proklamasies, maar moet sy koste herwin van die einste instellings wat hy ondersoek.
# Fisiese teen-semitiese aanvalle het volgens die Anti-Defamation League se jaarverslag in 2025 in Amerika met vier-persent gestyg, terwyl aanvalle met gevaarlike wapens met 39-persent toegneem het. Daar was ses-duisend-274 gevalle van teen-semitiese aanrandings, teistering en vandalisme verlede jaar. Dit is gemiddeld 17 per dag. In een voorval in Mei verlede jaar is twee personeellede van die Israelse ambassade buite die Joodse Museum in Washington vermoor. New York, Kalifornië en New Jersey het die meeste teen-semitiese voorvalle aangeteken:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Paris Saint-Germain, haal die tweede agtereenvolgende jaar die Kampioeneliga-eindstryd nadat hulle Bayern Munich in totaal met 6-5 geklop het. Ousmane Dembélé het PSG in die derde minuut sy voorsprong gegee. Harry Kane het in beseringstyd sy 55ste doel van die seisoen vir Bayern aangeteken, maar dit was nie genoeg nie. Die heersende kampioene kom op 30 Mei in die eindstryd in Boedapest teen Arsenal te staan. PSG se bestuurder, Luis Enrique, sê sy spelers het ʼn positiewe karakter getoon teen ʼn span soos Bayern:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-693-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….