Nuus 09:00
BULLETIN 6 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof sal Vrydag sy langverwagte Phala Phala-uitspraak lewer
# NATJOINTS waarsku betogers om binne die perke van die wet op te tree
# En die Weerdiens monitor die toenemende reën en donderbuie landswyd
# Die Konstitusionele Hof lewer Vrydag sy langverwagte uitspraak oor die Phala Phala-saak waarby president Cyril Ramaphosa betrek is, byna 18 maande nadat vertoë aangehoor is. Die EFF en African Transformation Movement wil hê die hoogste hof moet die Parlement verplig om die Artikel 89 Onafhanklike Paneel se verslag te aanvaar, wat die weg sal baan vir ‘n ampsklag teen Ramaphosa. Die paneel het in Desember 2022 bevind daar is ʼn prima facie saak dat Ramaphosa dalk sy ampseed geskend het wat die diefstal van geld in 2020 van sy Limpopo-wildplaas betref.
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, NATJOINTS, vra alle betogers om verantwoordelik op te tree en tydens betogings binne die wet te bly. Dit volg nadat die kwessie van onwettige immigrasie daartoe gelei het dat gefrustreerde Suid-Afrikaners betoog en in sommige gevalle buitelanders se winkels aan die brand gesteek het. NATJOINTS sê die Grondwet waarborg wel die reg op vreedsame betoging, maar hierdie reg moet toegepas word sonder geweld, intimidasie of onwettige optrede. Hy sê wetstoepassers sal optree teen enige persoon wat gevaarlike wapens dra of geweld aanhits.
# AfriForum verwelkom ‘n bevel deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die Stad Tshwane opdrag gee om elektrisiteit te herstel na skole wat afgesny is weens betwiste eiendomsbelastingbetalings. Die dringende saak is aangehoor nadat verskeie skole sonder krag gelaat is, wat onderrig, veiligheidstelsels en voedingskemas ontwrig het. Alana Bailey van AfriForum sê die uitspraak bring verligting vir die betrokke leerders en personeel en vra vir beter koördinering om soortgelyke ontwrigtings in die toekoms te voorkom:
# Sokker: Arsenal is die eerste keer sedert 2006 in die Kampioeneliga-eindstryd nadat hulle Atletico Madrid in totaal met 2-1 verslaan het. Ná die eerste deel was hulle gelykop met een elk, maar Bukayo Saka se doel in die 44ste minuut van die tweede deel het die Gunners se oorwinning besorg. Arsenal kom op 30 Mei in Boedapest óf teen Bayern Munich óf Paris Saint-Germain te staan. Arsenal-bestuurder, Mikel Arteta, sê hulle het ʼn ongelooflike prestasie behaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-556-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-646-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hy gaan voort om die intense afsny-laedrukstelsel wat tans oor dele van die land voorkom, te monitor. Wydverspreide buie en donderbuie het reeds op plekke oor ‘n groot deel van die land uitgesak. Weervoorspeller, Tokelo Chiloane, sê ‘n oranje vlak agt-waarskuwing vir ontwrigtende reën is vir vandag en môre uitgereik oor die Koukamma- en Kouga-munisipaliteite in die Oos-Kaap, en die Tuinroete in die Wes-Kaap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….