Nuus 09:00
BULLETIN 4 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tolashe sê seksuele kindermishandeling en tienerswangerskappe bly ‘n nasionale verleentheid
# Daar wag ’n week van wateronderbrekings op Kaapstad
# En die soektog na twee vermiste Amerikaanse soldate in Marokko duur voort
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê toenemende gevalle van kinders wat seksueel misbruik word en tienerswangerskappe bly ‘n nasionale verleentheid. Volgens die Nasionale Kinderbeskermingsregister is agt-duisend-984 gevalle van kindermishandeling en drie-duisend-258 gevalle van seksuele misbruik in die derde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar aangemeld. Meer as 100-duisend kinders en tieners raak jaarliks swanger. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê ʼn dringende en gekoördineerde nasionale poging is nodig om kinders teen mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting te beskerm:
# ActionSA sê sy Big Green Umbrella se groei beteken die tyd vir slagspreuke en leë beloftes is verby. Die party sê die Big Green Umbrella is ʼn groeiende platform wat etiese leierskap, burgerlike groeperings en Suid-Afrikaners wat tot skoon regering en dienslewering verbind is, saambring. Omogolo Taunyane van ActionSA sê wanneer inwoners hul krane oopdraai, moet water sonder onderbreking daaruit vloei en buurte moet genoeg straatligte hê sodat mense veilig kan wees:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê koue, nat en winderige weerstoestande word van vandag tot Donderdag in groot dele van die land verwag. Die verandering hou verband met ʼn afsny-laagdrukstelsel wat van môreoggend af oor die westelike dele van die land verwag word. Die weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, sê die stelsel sal eers die Wes-, Noord- en Oos-Kaap tref voor dit van môremiddag af oor die sentrale en oostelike binneland ooswaarts beweeg:
# ‘n Soek- en reddingsoperasie na twee Amerikaanse troepe duur voort nadat hulle in die suidweste van Marokko vermis geraak het ná ‘n jaarlikse weermagoefening waaraan verskeie lande deelgeneem het. Amptenare sê hulle is Saterdag laas naby kranse in die Cap Draa-oefengebied gesien. Die oefening, bekend as African Lion het Saterdag tot stilstand gekom sodat Amerika en Marokko hul hulpbronne vir die soektog kan aanwend. Owerhede glo die voorval was ‘n ongeluk en nie ‘n terreurdaad of ontvoering nie.
# Motorsport: Mercedes-renjaer Kimi Antonelli het die Miami Grand Prix gewen en spog nou met sy derde agtereenvolgende wedren-sege. Die 19-jarige Italianer het Lando Norris van McLaren uitgestof en loop nou met 20 punte voor op die wêreldkampioenskap se punteleer. McLaren-renjaer Oscar Piastri is derde en Antonelli se spanmaat, George Russell, vierde. Max Verstappen van Red Bull is vyfde, ten spyte van ʼn boete van vyf sekondes omdat hy oor die wit streep by die kuipe-uitgang gery het. Antonelli sê dit was ʼn moeilike wedren:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-249-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-600-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….