Nuus 09:00
BULLETIN 17 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering versoek die media om te help met ‘n meer ingeligte begrip oor migrasie
# Die Parlement se Ad Hoc-komitee oorweeg sy voorlopige verslag
# En Donald Trump se skoonseun vergader met Hamas
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Thandi Moraka, het die media se hulp gevra om ‘n meer ingeligte begrip van migrasie en streeksverhoudings te bevorder. Sy het ook mense wat Suid-Afrika binnekom, aangemoedig om die land se immigrasiewette en -regulasies na te kom. Dit is in aanloop tot die 46ste algemene vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat vandag in Durban plaasvind. Moraka sê migrasie is ʼn wêreldwye verskynsel met mense wat weens verskeie redes oor grense beweeg. Hulle soek onder meer ekonomiese geleenthede en akademiese ontwikkeling:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van politieke inmengery, korrupsie en misdadigheid in die strafregstelsel ondersoek, oorweeg vandag sy voorlopige verslag. Die komitee het maande lank na getuienis geluister ná bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Sedert getuienis in Maart afgehandel is, het die komitee daaraan gewerk om bewyse wat voorgelê is in die finale verslag saam te vat. Die voorlopige verslag is nou in sy vierde voorlopige vorm, nadat partye hul ontevredenheid uitgespreek het met die voriges waarin geen negatiewe bevindings teen enige iemand gemaak is nie.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die multidissiplinêre span onder leiding van die Valke geloof nadat ʼn tweede verdagte in die moord op twee lede van die Teenbende-eenheid en twee vroue verlede week in Reigerpark gearresteer is. Die 24-jarige verdagte is gister aangekeer ná die span se intensiewe opsporingsoperasie. Die eerste verdagte, die 23-jarige Reagan Collis, het verlede week in die hof verskyn. Die polisiewoordvoerder Kamogelo Mogotsi sê elkeen wat verantwoordelik is vir hierdie sinnelose moorde, sal aanspreeklik gehou word:
# Die Amerikaanse gesant en president Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, het gister seldsame gesprekke met Hamas-leiers in Egipte gevoer. Die besprekings het gefokus op die implementering van Trump se Raad van Vrede 15-puntplan waarvolgens Hamas moet ontwapen in ruil vir ‘n volle Israeliese militêre onttrekking uit die Gazastrook. Die plan sal lei tot ‘n uiteindelike oordrag van mag na ‘n onafhanklike Palestynse Nasionale Komitee. Israel het die plan verwerp. Die vergadering was ‘n seldsame direkte interaksie tussen ‘n senior Amerikaanse gesant en Hamas-leierskap. Kushner het ook die Egiptiese president Abdel Fattah al-Sisi ontmoet.
# Sokker: Kameroen het die nuwelinge Malawi met 3-0 verslaan en daarmee hul heel eerste Afrikabeker-titel vir vroue in Rabat, Marokko, verower. In ‘n uitstekende vertoning in die eerste helfte het Marie Ngah twee doele aangeteken, met ‘n derde deur Naomi Ndjoah Eto in ekstra tyd van die eerste helfte. Kameroen is die vierde onderskeie land om WAFCON te wen en sluit nou aan by Nigerië, Ekwatoriaal-Guinee en Suid-Afrika. Kameroen se doelwagter Michaely Kyria Bihia sê die span het alles gegee om te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-436-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….