Nuus 09:00
BULLETIN 30 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s Investors Service SA verlaat Suid-Afrika
# Die DA verwelkom die vordering met Suid-Afrikaanse grensbeveiliging
# En Donald Trump sê onderhandelinge om die oorlog met Iran te beëindig, vind tans telefonies plaas
# Die Voorsorgowerheid van Suid-Afrika sê Moody’s Investors Service South Africa sal nie langer as ‘n geskikte eksterne krediet-assesseringinstelling erken word nie. Die Finansiële Sektor Gedragsowerheid het Moody’s se registrasie in die land vroeër die maand gekanselleer nadat hy dit vrywillig opgegee het. Dit raak nie Suid-Afrika se soewereine gradering nie, omdat dit deur die globale instelling, Moody’s Investors Service, bepaal word. Die owerheid sê Moody’s is steeds verplig tot nakoming in sy laaste 24 maande in die land voor hy amptelik verwyder word.
# Die DA sê hy ondersteun die veiligheidshervorming van Suid-Afrikaanse grense terwyl dit handel en ekonomiese groei bevorder. Meer as 600-duisend individue is onlangs uit die land gesit, óf omdat hulle probeer het om die land onwettig binne te kom óf omdat hulle reeds onwettig in die land was. Adrian Roos van die DA sê doeltreffende grense is nie net ʼn vereiste vir veiligheid nie, maar ook ʼn ekonomiese noodsaaklikheid. Hy sê vertragings by grensposte kos Suid-Afrika miljarde aan handelsverliese en laer mededingendheid:
# United Africans Transformation het kommer uitgespreek oor bewerings van regeringsmislukkings in die Stad Tshwane. Dit volg nadat Defenders of the People-raadslid Rufus Mphahlele daarvan beskuldig is dat hy betrokke was by beweerde onreëlmatige tendertransaksies asook as swak bywoning van raadsvergaderings. Mighty Mabule van die party eis Mphahlele se onmiddellike skorsing terwyl ‘n onafhanklike ondersoek plaasvind:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê onderhandelinge om die oorlog met Iran te beëindig word nou telefonies gedoen weens die lang reistyd om ‘n afvaardiging na Islamabad, Pakistan te stuur. Na wat berig word kan Pakistani onderhandelaars Iran se hersiene vredesvoorstel vandag al kry. Dit sluit in afskaling in die Golf sonder om onmiddellike beperkings op sy kernprogram te plaas. Trump het vanaf die Withuis beklemtoon daar sal nooit ‘n ooreekoms wees as Iran nie toegee om geen kernwapens te hê nie.
# Sokker: Arsenal en Atlético Madrid se eerste wedstryd in die Kampioeneliga-halfeindronde in Madrid het met een-elk gelykop geëindig. Viktor Gyökeres se strafskop in die eerste helfte het die Gunners ʼn voorsprong gegee. Atletico het terugbaklei met ʼn strafskop deur Julián Álvarez. Arsenal het in die 78ste minuut byna voorgeloop nadat skeidsregter Danny Makkelie ʼn strafskop toegeken het toe David Hancko aan Eberechi Eze geraak het. Die besluit is omgekeer ná ʼn video gewys het daar was onvoldoende kontak. Die wenner kom in die eindstryd óf teen Bayern Munich óf teen Paris Saint-Germain te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-684-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-548-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 112-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….