Nuus 09:00
BULLETIN 29 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF veroordeel die Sunday Times-redakteur se beweerde betrokkenheid by ‘n korrupsieskandaal
# Die GOOD-party verwelkom die verlenging van die brandstofheffingverligting
# En Donald Trump beskryf die VSA-Brittanje-verhouding as ‘n gekoesterde vriendskap
# Die EFF sê hy hou vol dat dele van die Suid-Afrikaanse media onder verdenking is omdat hulle finansieel verbind word met politieke netwerke en korrupte staatsbefondsing. ‘n Verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid betrek die Sunday Times-redakteur, Makhudu Sefara, bybeweerde bedrog wat met die Nasionale Loterykommissie verband hou. Die EFF sê dit ontbloot groter verrotting by instellings wat hulle voordoen as verdedigers van aanspreeklikheid maar intussen self uit korrupsie voordeel trek.
# Die GOOD-party het die regering se besluit verwelkom om die verligting op die verhoging van die brandstofheffing verder te verleng tot 2 Junie om die uitwerking van brandstofprysverhogings verder te verlig. Die Nasionale Tesourie het vroeër die maand ‘n tydelike verlaging van drie-rand per liter op op die heffing aangekondig. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê die gevolge wat Amerika se aanval op Iran op olie- en gevolglik brandstofpryse gehad het, het die regering genoop om in te gryp om Suid-Afrikaners teen ‘n radikale brandstofprysskok te pantser:
# ActionSA het sy oproep verskerp dat die Polisie-ministerie dringend moet ingryp by die verdwyning van Mazwi Mpumelelo Kubheka. Die 27-jarige spazawinkel-eienaar van Vosloorus is op die tweede van die maand as vermis aangemeld nadat hy sy huis verlaat het om geld by die bank in te betaal. Hy is laas in Marimba Gardens opgemerk. Sy familie reken hy is moontlik ontvoer. ActionSA-leier Herman Mashaba sê plaaslike wetstoepassers het versuim om voldoende opdatering te verskaf of betekenisvolle vordering met die saak te toon:
# President Donald Trump van Amerika sê die geskiedenis en band tussen Amerika en die Verenigde Koninkryk is ʼn vriendskap soos geen ander op aarde nie. Hy het koning Charles die Derde en koningin Camilla gisteraand by ʼn staatsbanket in die Withuis onthaal. Trump sê die verhouding tussen die twee lande is ʼn ware verhaal van buitengewone heldhaftigheid en vaardigheid. Hy sê die geskiedenis ken geen sterker mag as ʼn kombinasie van Amerikaanse patriotisme en Britse trots nie:
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Paris Saint-Germain, het Bayern Munich 5-4 geklop in die eerste wedstryd van hul Kampioeneliga-halfeindronde. PSG het in die 58ste minuut 5-2 voorgeloop, maar Bayern het daarna vinnig twee doele aangeteken. Dis die hoogste gesamentlike telling in ʼn halfeindstryd in die Europese Beker se geskiedenis sedert die Rangers in 1960 6-3 teen Eintracht Frankfurt verloor het. Die spanne pak mekaar Woensdag in die tweede kragmeting. Die wenner speel in die eindstryd in Boedapest teen Arsenal of Atletico Madrid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-600-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….