Nuus 09:00
BULLETIN 25 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola vra vir dringende ‘n oplossing in die Lungu-begrafnisgeskil
# Eskom sê kragbestendigheid het verbeter ten spyte van ’n verhoogde aanvraag
# En rugby: Edinburgh verwoes die Haaie se uitspeelhoop met vyf drieë
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het die Zambiese regering en voormalige president Edgar Lungu se familie versoek om hul begrafnisgeskil vriendskaplik buite die hof te skik. Die dooiepunt duur al meer as tien maande na Lungu se dood in Pretoria in Junie 2025. Lamola het aan SABC News gesê daar moet deurgaans respek vir die hofbeslissings wees. Hy sê deur bemiddeling kan ‘n oplossing bereik word om te verseker dat Lungu sonder versuim begrawe word:
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig ten spyte van hoë aanvraag. Die nutsmaatskappy sê daar is verbeterde prestasie, met die Energie-beskikbaarheidsfaktor wat gestyg het tot 60,47-persent en die dieselbesteding wat met meer as 87-persent op ‘n jaargrondslag gedaal het. Daar was minder onbeplande onderbrekings, wat die druk op die netwerk verlig. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die vordering weerspieël sy herstelplan, met byna ‘n jaar van geringe onderbrekings, wat dui op verbeterde betroubaarheid en koste-doeltreffendheid oor die elektrisiteitstelsel:
# Die MK-party het aan die voorsitter van die Nkabinde-ondersoek, regter Elizabeth Nkabinde, geskryf om te verseker die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi is betrokke by die ondersoek na advokaat Andrew Chauke se geskiktheid om as aanklaer te dien. Die party sê Batohi, wat die klagte aanhangig gemaak het, het haar aan kruisondervraging onttrek nadat sy aanvanklik getuienis gelewer het. Dit ondermyn prosedurele billikheid. Hulle eis nou ‘n dagvaarding, moontlike nadelige bevindinge en verdere ondersoek na haar gedrag, en waarsku dat die geloofwaardigheid en openbare vertroue van die ondersoek in gevaar is.
# Noorweë gaan die einde van die jaar ‘n wetsontwerp indien om kinders onder 16 te verbied om sosiale media te gebruik, wat tegnologie-maatskappye verantwoordelik sal maak vir ouderdoms-bevestiging. Verskeie Europese lande probeer om kinders se gebruik van sosiale media te beperk. Australië het in Desember die eerste land geword om ‘n verbod te plaas vir kinders onder 16. Dit dek toepassings soos Instagram, Facebook, TikTok, Snapchat, YouTube en X. Die Noorse premier, Jonas Gahr Stoere, sê kinders se alledaagse lewe moet nie oorgeneem word deur algoritmes en skerms nie.
# Rugby: Die Haaie se skrale hoop om die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap te haal, is beëindig na ‘n nederlaag van 33-28 teen Edinburgh gisteraand. Die Haaie het met minder as 25 minute speeltyd oor op die Hive-stadion met 21-14 voorgeloop. Edinburgh het egter met drie drieë kort na mekaar beheer oorgeneem. Edinburgh se vyf drieë is gedruk deur Ewan Ashman, Glen Young, Mosese Tuipoluto, Hector Patterson en Darcy Graham. Edwill van der Merwe, Phepsi Buthelezi, Vincent Koch en Vincent Tshituka het die Haaie se vier drieë bygevoeg, almal verdoel deur Jean Smith.
# En ten slotte: ‘n Handgemaakte burrata van Puglia-kaas in Somerset-Wes in die Wes-Kaap is op die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe in die Paarl aangewys as Suid-Afrika se Suiwelproduk van die Jaar. Die kaas van 100-persent Suid-Afrikaanse beesmelk is uit meer as duisend ander inskrywings deur 81 produsente gekroon. Die beoordelaars het die wenkaas vir sy gehalte en egtheid geprys. Die stigters van die Puglia-handelsmerk, Davide en Ursula Ostuni, sê die toekenning is ‘n erkenning van hul jarelange vakmanskap en toewyding tot tradisionele kaasmaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….