Nuus 09:00
BULLETIN 31 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê die ANC moes Zuma vroeër al geskors het
# Die DA sê korrupsie-aanwysers beklemtoon die erger-wordende korrupsie onder Ramaphosa
# En, Japan gaan voor die hof gedaag word oor beweerde rassisme teenoor buitelandse inwoners
# Cosatu sê oudpresident Jacob Zuma moes lankal uit die ANC geskors word. Die regerende party se Nasionale Uitvoerende Komitee het besluit om Zuma te skors nadat hy die ANC se grondwet oortree het deur vir ‘n ander party stemme te werf. Hy voer ʼn verkiesingsveldtog vir die uMkhonto weSizwe-party en het gesê hy sal nie in die komende algemene verkiesing vir die ANC stem nie. Cosatu se president, Zingiswa Losi, het aan Newzroom Afrika gesê Zuma doen wat hy tydens sy termyn as teenrevolusionêr beskou het:
# Die DA beweer Suid-Afrika ervaar verhoogde korrupsie onder president Cyril Ramaphosa in vergelyking met sy voorganger, Jacob Zuma. Die internasionale korrupsiewaghond, Transparency International, het aangekondig Suid-Afrika se posisie op die korrupsie-aanwyser het gedaal tot sy laagste vlak in 12-jaar. Die party meen die rekordlae telling van 41 uit 100 dui op ‘n gebrekkige demokrasie weens deurdringende korrupsie in Ramaphosa se administrasie. Partyleier John Steenhuisen beskuldig Ramaphosa van die beskerming van die ANC se kaderontplooiing, wat bygedra het tot korrupsie. Steenhuisen kritiseer sy versuim om teen adjunkpresident Paul Mashatile op te tree te midde van korrupsiebewerings.
# Die Kaapse Wynland Distrik sê brandbestryders sukkel om ʼn brand teen die hange van die Dwarsberg bokant Rawsonville onder beheer te bring. Die brand het Maandag bokant die Brandvlei-tronk ontstaan en oor die bergkruin na die Dwarsberg versprei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê spanne veg teen die brand wat vinnig deur baie hoë, digte plantegroei woed en brandbestryding vir almal moeilik en veral gevaarlik maak:
# Drie mans wat in die buiteland gebore is, het ‘n saak die Japannese regering gemaak omdat die polisie hulle na bewering op grond van ras lastig val. Elkeen eis vergoeding van ongeveer 377-duisend-rand. Die eisers is onderskeidelik in Amerika, Pakistan en Indië gebore en wil bewys die ongelyke behandeling op grond van ras is strydig die Grondwet en internasionale menseregte-ooreenkomste. Hulle beweer die polisie het hulle herhaaldelik voorgekeer en deursoek. Die hofsaak laat die soeklig val op toenemende uitdagings in Japan, waar twee-miljoen buitelandse werkers nou deel van die werksmag uitmaak.
# Rugby: Losskakel Marcus Smith het ʼn kuitbesering en is nie Saterdag beskikbaar vir Engeland se eerste Sesnasies-wedstryd teen Italië in Rome nie. Hy het die besering Maandag tydens ʼn oefensessie opgedoen. Dit beteken George Ford en nuweling Fin Smith is afrigter Steve Borthwick se enigste losskakel-opsies. Engeland moet reeds sonder die beseerde senters Ollie Lawrence en Manu Tuilagi, agterspeler Tom Curry en vleuel Anthony Watson klaarkom. Die hulpafrigter Kevin Sinfield sê hulle wag op ʼn tweede mening oor Smith se skanderings om te bepaal hoe lank hy buite aksie gaan wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-987-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….