Nuus 09:00
BULLETIN 22 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ongeveer 23-miljoen Suid-Afrikaners leef onder die onderste broodlyn
# Iran se VN-gesant sê vredesgesprekke hang af van die beëindiging van Amerika se versperring van hawens
# En swem: Noorweë sluit by Pole aan om atlete van Rusland en Belarus te weier
# Volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste armoede-verslag leef sowat 23-miljoen Suid-Afrikaners, of 37,9-persent van die bevolking, tans onder die laagste vlak van die broodlyn. Dis ‘n aansienlike daling teenoor die 46,7-persent in 2015. Armoedevlakke het tussen 2015 en 2023 in alle ouderdomskategorieë gedaal, met die grootste dalings in Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga. In Gauteng was ʼn toename van 26,3-persent in 2015 tot 26,5-persent in 2023. StatsSA sê beter ingryping is nodig om ongelykheid aan te spreek.
# Die adjunkminister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Nomalungelo Gina, sê die departement se jaarlikse prestasie vir 2026/2027 moet gesien word teen die agtergrond van ʼn aantal strategiese uitdagings. Dit sluit in ʼn onseker geopolitieke en ekonomiese omgewing, ʼn beperkte nasionale fiskale omgewing, ʼn daling in besteding aan navorsing en ontwikkeling, en Amerika se onttrekking van fondse aan belangrike gesamentlike wetenskapsprojekte. Die departement se woordvoerder, Veronica Mohapeloa, sê die jaarlikse prestasie-plan sal help om die probleme aan te spreek:
# Die Vryheidsfront Plus in die Stad Tshwane sê hy bestempel die EFF se jongste aanslag op die metrobestuurder, Johann Mettler, en die hoof van Nooddienste, Moshema Mosia, as niks anders as politieke spel en opportunisme nie. Die EFF wil hê die burgemeester, Nasiphi Moya, moet teen Mettler optree nadat die Openbare Beskermer wanadministrasie in die stad se werwingsprosesse uitgewys het. Die party bevraagteken ook Mosia se aanstelling. Grandi Theunissen van die VF Plus sê die EFF wil die metro se bevoegde leierskap diskrediteer:
# Iran se gesant by die Verenigde Nasies, Amir-Saeid Iravani, sê die volgende ronde onderhandelings sal slegs plaasvind sodra die VSA sy versperring van Iranse hawens staak. Dit volg te midde van president Donald Trump se verlenging van die skietstilstand totdat Iran ‘n voorstel ter tafel lê vir die beëindiging van die oorlog. Die VSA sal egter sy versperring van hawens sal voortsit. Iravani beskryf die versperring as ‘n skending van die skietstilstand:
# Swem: Die Noorweegse swemfederasie sê hy gaan nie internasionale swemkampioenskappe aanbied terwyl World Aquatics atlete van Rusland en Belarus toelaat om deel te neem nie. Pole het ʼn soortgelyke uitgangspunt oor die kwessie. World Aquatics het die neutraliteitsbeperkings verlede week opgehef, wat swemmers van die twee nasies toelaat om die eerste keer sedert 2022 onder hul vlae deel te neem. Noorweë vra ʼn groter streeksboikot van gasheer-pligte. World Aquatics sê swembaddens en oop water moet plekke bly waar atlete van alle nasies in vrede kan meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend–584-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-758-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….