Nuus 09:00
BULLETIN 20 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sal vandag Matshela Koko se aansoek oor ‘n strafherstellingsooreenkoms aanhoor
# Johannesburg se N12 word heropen na ‘n dodelike gastenkwabrand
# En die Amerikaanse vloot het ‘n Iranse skip onderskep en op beslag gelê
# Die Johannesburgse Hooggeregshof hoor vandag die gewese Eskom-hoof, Matshela Koko, se aansoek aan oor ‘n strafherstellingsooreenkoms van 2,5-miljard-rand tussen die Nasionale Vervolgingsgesag en die Sweeds-Switserse tegnologiemaatskappy, Asea Brown Boveri. Die maatskappy het erken dat hy gunslone aan ʼn hooggeplaaste Eskom-amptenaar betaal het om ʼn kontrak by die Kusile-kragstasie te bekom. ʼn Ooreenkoms is in 2022 bereik. Koko voer aan ABB moes nie vrystelling van vervolging gekry het nie, en dat omkoop-bewerings hom regstreeks verbind met die NVG se vorige pogings om hom te vervolg vir korrupsie in ʼn tender van 2,2-miljard-rand.
# Die drukgroep Activists and Citizens Forum sê die plofbare bewerings deur die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela, moet nie ligtelik opgeneem word nie. Haar aantygings sluit in beskuldigings van omkopery, die beskerming van korrupte beamptes en dat haar verwydering beplan is om te verhoed dat sy misdaad in die polisie blootlê. Sy het ook aantygings teen die gewese minister van Polisie, Bheki Ceke, gemaak. Dennis Bloem van die Forum sê die beskuldigings is ‘n bewys dat die polisiediens ‘n algehele vernuwing benodig:
# Johannesburg se metropolisie sê die N12 naby die Comaro-weg-afrit is weer oop vir verkeer. Dit volg nadat ʼn motor gister teen ʼn stilstaande gastenkwa vasgery en ʼn brand veroorsaak het. Die motorbestuurder is op die toneel dood. Die metropolisie se woordvoerder, Xolani Fihla, sê dit het ure geneem om die orige gas van die beskadigde tenkwa na ʼn ander een oor te plaas en die toneel op te ruim:
# President Donald Trump sê die Amerikaanse vloot het op ʼn vragskip met ʼn Iranse vlag gevuur en daarop beslag gelê toe dit verby sy blokkade in die Golf van Oman probeer vaar het. Trump het Vrydag gesê die blokkade van Iranse hawens sal voortduur tot die twee lande ʼn ooreenkoms bereik. In ʼn inskrywing op Truth Social sê Trump die vragskip TOUSKA is gewaarsku om te stop, maar dis geïgnoreer. Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê Amerika se blokkade oortree die skietstilstandooreenkoms en is onwettig en misdadig.
# Sokker: Manchester City is met een wedstryd oor slegs drie punte agter die Premierliga-voorlopers, Arsenal, wat gisteraand op die Etihad-stadion met 2-1 verslaan is. Rayan Cherki het aan City die voorsprong besorg, maar Arsenal het sake binne sekondes met Kai Havertz se doel gelykop gemaak. Erling Haaland se doel in die tweede helfte het die oorwinning beklink. City kan die Gunners verbysteek as hulle die tweede laaste span, Burnley, Woensdag kan klop. Arsenal-bestuurder, Mikel Arteta, sê sy spelers moet herbesin met vyf wedstryde wat oorbly:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-524-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-793-dollar-05-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….