Nuus 09:00
BULLETIN 15 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Roelf Meyer is Suid-Afrika se nuwe ambassaseur in Amerika
# ActionSA wil hê president Ramaphosa moet minister Ramokgopa afdank
# En die VN-hoof sê dis tyd vir selfbeheersing en diplomasie in die Midde-Ooste
# President Cyril Ramaphosa het die ervare politikus en vredesonderhandelaar, Roelf Meyer, as Suid-Afrika se volgende ambassadeur in die Verenigde State aangestel. Hy vervang Ebrahim Rasool, wat in 2025 tot persona non grata verklaar is nadat hy president Donald Trump se administrasie tydens ‘n webinaar oor Amerikaanse politiek gekritiseer het. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan Reuters gesê Meyer sal onmiddellik na die voltooiing van alle protokolle in Washington aanmeld.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering het ‘n beduidende stap geneem om nasionale veiligheid en intelligensie-integrasie te versterk. Dit volg op die amptelike bekendstelling van die Nasionale Sentrum vir Intelligensiekoördinering, ‘n stap wat daarop gemik is om Suid-Afrika se vermoë te verbeter om ontwikkelende bedreigings te verwag, op te spoor en uit te skakel. Ntshavheni sê die land se intelligensiegemeenskap is nie ‘n passiewe waarnemer nie, maar ‘n besliste jagter van bedreigings:
# ActionSA vra president Cyril Ramaphosa om die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, onmiddellik af te dank. Dit volg op ‘n Daily Maverick-verslag wat beweer dat sy onverklaarde geskenke van drie Chinese sportnutsvoertuie ter waarde van 1,5-miljoen-rand ontvang het. Dereleen James van ActionSA sê sy sal terselfdertyd ‘n strafregtelike klag, ‘n klag by die Openbare Beskermer en ‘n parlementêre etiekklag teen Ramokgopa indien:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê sonder selfbeheersing versprei onbestendigheid, wantroue verdiep en konflikte raak buite beheer. Hy sê dis ‘n situasie wat oral van toepassing is, maar tans veral op die konflik in die Midde-Ooste. Die konflik het dood en verwoesting reg oor die streek veroorsaak, terwyl die blokkering van skepe deur die Straat van Hormoes die wêreldekonomie beïnvloed. Guterres sê vredesooreenkomste vereis volgehoue betrokkenheid en politieke wil:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Paris Saint-Germain, is deur na die Kampioeneliga se halfeindronde nadat hulle Liverpool op Anfield verslaan het. Die 2025 Ballon d’Or-wenner, Ousmane Dembélé, het in die laaste 20 minute met twee doele geslaag. PSG het die Reds met 2-0 geklop in die kwarteindronde se tweede wedstryd om ‘n totale oorwinning van 4-0 te behaal. Intussen het Atletico Madrid die halfeindronde die eerste keer sedert 2016/2017 bereik ná ʼn 3-2 totale oorwinning oor die vyfmalige kampioene, Barcelona. Dit ten spyte van hul 2-1-nederlaag in die kwarteindronde se tweede wedstryd in Madrid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-392-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-824-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….