Nuus 09:00
BULLETIN 14 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola sê Suid-Afrikaans-Duitse samewerking word versterk
# Suid-Afrikaanse suikerrietkwekers verwelkom fase twee van die meesterplan vir die suikerbedryf
# En Donald Trump verwyder die prentjie wat hom as Jesus uitbeeld
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en die Duitse minister van Buitelandse Sake, Johann Wadephul, het beklemtoon dat bestendige vennootskappe tussen middelmoondhede en demokratiese nasies noodsaaklik is in die huidige onstabiele internasionale omgewing. Die ministers het deelgeneem aan die 12de vergadering van die Duits-Suid-Afrikaanse Bi-Nasionale Kommissie in Berlyn, waar onderwerpe soos bilaterale samewerking, multilateralisme en vrede en veiligheid bespreek is. Lamola sê die Suid-Afrikaans-Duitse samewerking berus op ‘n gedeelde verbintenis tot die beginsels van ‘n reëlgebaseerde internasionale orde:
# Die SA Suikerrietkwekersvereniging sê die suikerbedryf benodig sterker beskerming teen onbillike invoermededinging en doen ‘n beroep op kleinhandelaars en vervaardigers om plaaslik vervaardigde suiker te prioritiseer. Die organisasie verwelkom die ondertekening van die tweede fase van die suikerbedryfmeesterplan, wat regerings- en bedryfsbelanghebbendes bymekaar bring om die sektor te ondersteun. Die voorsitter van die vereniging, Higgins Mdluli, sê die bedryf moet diversifiseer na gebiede soos biobrandstowwe en volhoubare lugvaartbrandstowwe om langtermynvolhoubaarheid te verseker en meer as een-miljoen mense se voortbestaan te beskerm.
# Die Gautengse regering sê die onlangse verklaring deur DA-leier Solly Msimanga, waarin premier Panyaza Lesufi versoek word om die getekende prestasie-ooreenkomste van alle LUR’e vry te stel, is feitelik verkeerd en misleidend. Die provinsiale woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê getekende prestasie-ooreenkomste vir alle Gautengse LUR’e is op 16 Oktober 2025 openbaar gemaak. Hy sê dit is nog ‘n misleide poging deur die DA om onenigheid te skep waar dit bestaan nie:
# President Donald Trump van Amerika het ‘n inskrywing wat hom as ʼn Jesus-figuur uitbeeld, geskrap ná kritiek deur sommige van sy belangrike en lojale Christen-ondersteuners. Hy het Sondag die prent, wat deur kunsmatige intelligensie geskep is, op Truth Social geplaas. In die prent skyn ʼn lig uit sy hande terwyl hy ʼn siek man in ʼn hospitaalbed genees met ʼn duiwel uit die hel wat in die agtergrond sweef. Trump sê hy het gedink die prent stel hom as ʼn dokter voor:
# Swem: Atlete van Rusland en Belarus mag nou sonder beperkings onder hulle eie vlag en volkslied aan wêreld-watersportgeleenthede deelneem. Atlete van beide lande is uit internasionale sportgeleenthede verban nadat Rusland Oekraïne in Februarie 2022 ingeval het. Die twee lande se atlete sal slegs toegelaat word nadat hulle vier agtereenvolgende opkikkertoetse geslaag het en agtergrondtoetse voltooi is. World Aquatics sê hulle het die afgelope drie jaar gewerk om seker te maak konflik bly buite die sportkompetisie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-502-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-771-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….