Nuus 09:00
BULLETIN 15 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens plaas sy waarnemende uitvoerende hoof op spesiale verlof ná slegs vier maande
# Die DA vra ‘n parlementêre inligtingsessie oor die ingrypings by NSFAS
# En rugby: Die Boland Kavaliers slaan terug en troef die Leeus
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het sy waarnemende uitvoerende hoof, John Seshibe, op spesiale verlof geplaas hangende die uitkoms van ‘n interne proses, slegs vier maande nadat hy die leisels oorgeneem het. Die stap volg te midde van vrae oor leierskap en bestuur by die staatsbeheerde lugredery. SAA se hoofregsbeampte, Koekie Mbeki, sal nou in die pos waarneem. Seshibe is vroeër vanjaar as waarnemende uitvoerende hoof aangestel nadat die vorige uitvoerende hoof die lugdiens verlaat het. Die jongste verwikkeling plaas SAA se bestuur en pogings om die lugredery om te keer opnuut onder die soeklig.
# Die DA het ‘n dringende skrywe aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys en Opleiding gerig waarin hy versoek dat die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, die Parlement toespreek oor sy ingryping by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria gelas het Hlengani Mathebula se aanstelling as NSFAS-administrateur moet opgeskort word. Die DA-lid, Delmaine Christians, sê die party eis ook versekering dat studente se befondsing, appèlle, verblyf-betalings en ander NSFAS-verpligtinge sonder onderbreking in die oorgangstydperk sal voortgaan:
Die MK-party het intussen die uitspraak verwelkom, sowel as die hof se bevel om die ontbinde NSFAS-raad weer aan te stel. Minister Manamela het die raad ontbind en die entiteit in Mei vanjaar onder administrasie geplaas. Die MK-party vra nou die onmiddellike terugvordering van alle betalings aan adviseurs wat deur Mathebula aangestel is, aangesien dit onwettig en volgens ‘n gebrekkige proses uitgevoer is.
# Die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, ontken bewerings dat ‘n onderneming wat sake met die stad doen, opknappingswerk by haar privaat woning gedoen het. Haar woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê Tlopo Construction het nie haar swembad gebou of enige ander werk op haar eiendom gedoen nie en die bewerings is vals. Hy sê Moya is toenemend bekommerd oor wat blykbaar ‘n doelbewuste poging deur politieke teenstanders in Tshwane is om vals beskuldigings te versprei:
# Die Italiaanse polisie het drie skilderye deur die Franse meesters Paul Cézanne, Pierre-Auguste Renoir en Henri Matisse teruggevind, wat in Maart uit ‘n museum naby Parma gesteel is. Die kultuurerfeniseenheid van die Carabinieri het die kunswerke teruggevind na ‘n ingewikkelde ondersoek. Die kunswerke se gekombineerde waarde word op meer as 168-miljoen-rand geraam. Die polisie het ook beeldmateriaal vrygestel wat wys hoe twee gemaskerde inbrekers deur ‘n venster die Magnani Rocca-stigting inklim en die skilderye in minder as drie minute steel. Die herwonne werke sluit in Cézanne se Beker en Bord met Kersies, Renoir se Die Vis, en Matisse se Odalisk op die Terras.
# En rugby: Die Boland Kavaliers het ‘n dramatiese ommekeer in die Curriebeker gemaak deur ‘n agterstand van 17-0 te oorkom en die Leeus met 38-29 op die Wits-stadion te klop. Die Leeus het vroeg voorgeloop nadat Boland met 14 spelers moes klaarkom, maar die besoekers het sterk teruggeveg. Mthokozisi Gumede het twee drieë gedruk, terwyl Keagan Smith ook twee keer vir die Leeus oorgeduik het. Plaasvervanger James Tedder het die oorwinning met ‘n laat strafskop verseël. Die bonuspunt-oorwinning skuif Boland tot derde op die punteleer en met nog twee rondes oor is daar hoop vir ‘n uitspeelstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….