Nuus 09:00
BULLETIN 6 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie vind onwettige vuurwapens en dossiere in ‘n klopjag op Fannie Nkosi se huis
# Die Brandstofbedryf-vereniging waarsku brandstof-agterstande veroorsaak tydelike tekorte by vulstasies
# En, tennis: Die wêreld se beste manspelers kom byeen vir die Monte-Carlo-meesterstoernooi
# ‘n Lid van die polisie se Gautengse Eenheid teen Georganiseerde Misdaad, Fannie Nkosi, gaan na verwagting dié week in die hof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is. Nkosi, wat voor die Madlanga-kommissie getuig het, word verbind met misdaad-sindikate. City Press berig ‘n klopjag op sy huis in Pretoria het polisie-dossiere, 190 rondes ongelisensieerde ammunisie, ‘n staats-uitgereikte handgranaat en agt gelisensieerde vuurwapens opgelewer. Die ontdekking het vrae laat ontstaan oor moontlike misdadige bedrywighede omdat die vuurwapens in ‘n wasbak gebêre is en nie in ‘n kluis nie.
# Die Brandstofbedryf-vereniging sê brandstoftekorte by sommige vulstasies in Gauteng is deel van ‘n wyer landwye agterstand en nie ‘n gebrek aan voorraad nie. Uitvoerende direkteur Avhapfni Tshifularo sê paniek- en massa-aankope voor verlede week se brandstofprysverhogings het verspreiding ontwrig toe petrolpryse met meer as drie-rand per liter gestyg het, en diesel met meer as sewe-rand. Die vereniging sê voorraad raak bestendig en agterstande behoort vroeg dié week opgelos te word.
# Die DA sê hy is steeds verbind tot nie-rassigheid met hernude vrae oor sy rasseboodskap kort voor sy federale kongres. Woordvoerder Luyolo Mphithi het die uitgaande leier John Steenhuisen geloof vir die bevordering van inklusiewe leierskap en jeugverteenwoordiging. Mphithi het aan Newzroom Afrika gesê die party se regeringsrekord weerspieël dienslewering vir alle Suid-Afrikaners. Hy het bygevoeg die DA fokus op die bou van vertroue en demonstreer diversiteit in al sy leierskapstrukture:
# Die hoof van die Global Energy Alliance for People and Planet, Tshego Neeuwfan, sê alhoewel hervormings in die elektrisiteitsverspreidingsektor tyd sal neem, is onmiddellike samewerking nodig om voorsiening te verbeter. Elektrisiteitskenners het Nasionale Tesourie se besluit verwelkom wat munisipaliteite toelaat om fondse te gebruik om in sleutelinfrastruktuur te belê. Hy voeg by dat bekostigbaarheid, doeltreffende gebruik en sterker vennootskappe van kritieke belang is, en waarsku dat munisipaliteite nie infrastruktuur-uitdagings alleen sonder breër ondersteuning deur belanghebbendes kan oplos nie.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het nog ‘n dreigement op sosiale media gemaak om Iran se kragsentrales en brûe te vernietig as hy nie sy Dinsdag-sperdatum nakom om die Straat van Hormoes te heropen nie. Trump se nuwe dreigement volg na die aankondiging dat die tweede bemanningslid van ‘n Amerikaanse vegvliegtuig wat oor Iran afgeskiet is, suksesvol gered is. Die VSA en Iran het albei gespook om die Amerikaanse soldaat in ‘n bergagtige deel van Iran op te spoor. Die vlieënier van die F-15 is gevind kort nadat die vliegtuig Vrydag afgeskiet is.
# En ten slotte, Tennis: Die kleibaan-seisoen is in volle swang en een van die gewildste manstoernooie, die Monte-Carlo-meesters, begin vandag langs die Middellandse See. Die wêreld se voorste twee spelers, Carlos Alcaraz van Spanje en die Italianer Jannik Sinner, is die topgekeurdes, met Sinner wat ‘n kans het om Alcaraz volgende naweek boaan die ranglys te vervang. Onder die ander voorste spelers wat deelneem is die Duitser Alexander Zverev, nog ‘n Italianer, Lorenzo Musetti, die Russe Daniil Medvedev, Karen Kachanov en Andrey Rublev, en die Noorweër Casper Ruud.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….