Nuus 09:00
BULLETIN 5 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Geordin Hill-Lewis en Sibusiso Dyonase betree die wedloop vir die DA se federale leierskap
# Aangewese kommissaris Ngobani Makhubu beloof om die Inkomstediens te beskerm en te versterk
# En krieket: IPL-oorwinnings vir Delhi Capitals en Rajasthan Royals
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en die DA se koukusleier in die Sedibeng-munisipaliteit in Gauteng, Sibusiso Dyonase, sal volgende naweek meeding om die posisie van federale leier tydens die party se kongres in Johannesburg. Meer as twee-duisend afgevaardigdes sal na verwagting stem. DA-woordvoerder Nazley Sharif sê ‘n groeiende aantal jong leiers het na vore getree, wat dui op ‘n geslags-verskuiwing binne die party en druk om opkomende leierskap te bemagtig.
# Die aangewese kommissaris van die Inkomstediens, Ngobani Makhubu, het beloof om die instelling se integriteit te koester en te beskerm. President Cyril Ramaphosa het hom aangestel as opvolger van Edward Kieswetter, wie se ampstermyn van sewe jaar einde April eindig. Makhubu het personeellede geprys vir die herbou van die organisasie tot ‘n betroubare instelling. Hy het ook sy verbintenis herbevestig tot die versterking van die S-A-I-D se mandaat:
# Die ekonoom Frederick Mitchell sê gegewe die huidige wêreldwye energieskok as gevolg van die Midde-Oosterse konflik, benodig Suid-Afrika slimmer, meer veerkragtige fiskale instrumente om toekomstige wisselvalligheid te bestuur. Motoriste is verlede week deur resue-brandstofprysstygings getref, wat daartoe gelei het dat die regering ‘n verlaging van drie-rand in die brandstofheffing moes instel. Die fiskus verloor ses-miljard-rand om hierdie verligting te befonds. Mitchell het ‘n “Swewende Brandstofprysbelasting” voorgestel, wat outomaties by die brandstofprys sal aanpas. Hy sê so kan verbruikers makliker stygende koste hanteer.
# Die onderwysersorganisasie NAPTOSA is bekommerd oor misdaadsindikate wat nou skole begin teiken. Dit het aan die lig gekom dat sommige skoolhoofde in die Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga na bewering afpersers betaal om skooleiendom te beskerm. NAPTOSA se uitvoerende direkteur, Basil Manuel, het aan Newzroom Afrika gesê dit wys hoe korrupsie elke deel van die samelewing ingesypel het:
# En krieket: Delhi Capitals en Rajasthan Royals het oorwinnings behaal in die Indiese Premierliga. Mumbai Indians het in Delhi 162 vir ses bereik danksy kaptein Suryakumar Yadav se 51. Die gashere het met ses paaltjies gewen ná Sameer Rizvi se 90. In Ahmedabad het Rajasthan 210 vir ses bereik danksy Dhruv Jurel se 75. Gujarat Titans kon slegs 204 vir agt aanteken nadat Ravi Bishnoi vier paaltjies laat kantel het. Vandag speel Sunrisers Hyderabad teen Lucknow Super Giants en die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bangalore, teen Chennai Super Kings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….