Nuus 09:00
BULLETIN 4 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die ANC sal venootskappe met nog ander politieke partye sluit
# Eskom rapporteer verbeterde opwekkingsbestendigheid en groot dieselbesparings
# En ‘n Amerikaanse F-15-vegvliegtuig is oor Iran afgeskiet met een bemanningslid wat vermis word
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die ANC bly oop vir samewerking met politieke partye wat daartoe verbind is om Suid-Afrika te dien. Hy het ná ‘n Goeie Vrydag-diens wat gister deur die Amandla Ngawethu Universal Church by Ellis Park-stadion in Johannesburg aangebied is met die media gepraat. Mashatile het beklemtoon dat die moontlikheid om met partye soos die EFF en MK-party in die regering van nasionale eenheid saam te werk, altyd oop sal bly:
# Die DA gaan ‘n klag by die Openbare Beskermer teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, indien oor beweerde oortredings van die Wet op die Etiek van Uitvoerende Lede. Die party beweer die minister het buite die wetlike prosesse opgetree in tugstappe en by aanstellings wat met die departement se Direkteur-Generaal verband hou. Daar word beweer dat Tolashe nie die wetlike voorskrifte gevolg het met die instel van die tugstappe teen die voormalige direkteur-generaal, Peter Netshipale nie. Die DA-woordvoerder Nazley Sharif beweer die Parlement is by verskeie geleenthede mislei en sy doen ‘n beroep op verantwoording.
# Eskom sê Suid-Afrika se kragstelsel bly bestendig, met verbeterde opwekkingsvermoë en ‘n 62-persent jaar-tot-jaar vermindering in dieselverbruik. Die kragvoorsiener se uitvoering van die Opwekkingsherstelplan het die Energiebeskikbaarheidsfaktor tot 65,35-persent verhoog. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die land het 322 opeenvolgende dae sonder ‘n onderbreking in elektrisiteitsvoorsiening behaal en 361 ononderbroke dae met ongeveer 99-persent beskikbaarheid gedurende die 2025/2026-boekjaar:
# Die omstrede Gautengse polisiebeampte van georganiseerde misdaad, Fannie Nkosi, is in hegtenis geneem in verband met vuurwapenaanklagte wat na bewering gekoppel is aan sy broer se sekuriteitsmaatskapp. Hy sal Dinsdag in die hof verskyn. Die aanklagte teen hom ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer sluit in die besit van ongelisensieerde ammunisie, diefstal, regsverydeling en die versuim om vuurwapens en ammunisie behoorlik te beveilig. Verlede week het die polisie ‘n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging by sy huis uitgevoer na sy getuienis voor die Madlanga-kommissie.
# Amerikaanse en Iranse magte soek na ‘n Amerikaanse weermaglid nadat ‘n tweesitplek F-15-vegvliegtuig oor Iran afgeskiet is. Die ander bemanningslid is gered. Dit is die eerste keer dat ‘n Amerikaanse vliegtuig tydens die konflik oor Iran afgeskiet is. Teheran het verantwoordelikheid aanvaar en ‘n beloning uitgereik as Iraniërs die vermiste Amerikaanse weermaglid vind en oorhandig. President Donald Trump het aan NBC News gesê die aanval op die vegvliegtuig sal nie die onderhandelinge met Iran beïnvloed nie.
# En sokker: Mamelodi Sundowns is twee punte voor Orlando Pirates wat in die tweede plek is, in die Premierliga, nadat hulle Chippa United met 4-1 op Loftus Versfeld geklop het. Doele van Marcelo Allende, Iqraam Rayners, Tashreeq Matthews en die plaasvervanger Brayan Leon het die belangrike oorwinning vir die Brasiliane verseël. Sinoxolo Kwayiba het die enigste doel vir die Chilli Boys aangeteken, wat 13de op die puntelys bly, twee punte bo die relegasiesone. Sundowns sal ‘n voorsprong van vyf punte bo Pirates behaal as hulle Dinsdag teen Durban City wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….