Nuus 09:00
BULLETIN 29 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi beloof om nie voor intimidasie te swig nie
# Die EFF nader die hof oor tugstappe teen ses van sy parlementslede
# En, Kaapse Wynland-brandbestryders veg voort teen brande in die Breedevallei en Witzenberg
# RISE Mzansi sê hy sal nie buig voor intimidasie nie, want hy bied ‘n alternatief vir die gevestigde politieke orde wat nie daarin kon slaag om ‘n veilige, voorspoedige, gelyke en verenigde Suid-Afrika te bou nie. Die party het gereageer omdat RISE Mzansi-organiseerders en -vrywilligers gedreig word en die party se verkiesingsplakkate landwyd vernietig word. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die party het die gevestigde politieke orde geskud en gevolglik wend teenstanders hulle tot vuil taktiek om dié groeiende beweging te probeer onderdruk:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor vandag die EFF se saak aan oor tugstappe teen ses van sy parlementslede, insluitend leier Julius Malema. Die lede is beskuldig van minagting van die Parlement nadat hulle verlede jaar die verhoog bestorm het tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Die lede sal van Donderdag af vir een maand sonder betaling geskors wees. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle sal die EFF se aansoek teenstaan en voeg by hulle het ‘n baie sterk saak.
# Die brande in die Breedevallei en Witzenberg, in die Kaapse Wynland-distrik, woed steeds buite beheer. Koeler nagtemperature en windlose toestande het egter bygedra tot beter uitkomste vir albei brande. Jo-Anne Otto van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê die warm, droë weer in kombinasie met maklik ontvlambare materiaal soos verouderde fynbos, uitheemse plantegroei, of ‘n kombinasie van albei is ideaal vir brande. Sy sê daar is twee aktiewe brandlyne: een in die Bainskloof-Slanghoek-gebied en die ander een by Elandsberg:
# Die DA in Gauteng doen ʼn beroep op die provinsiale Onderwysdepartement om van skole te vereis dat alle nodige voorkomingsmaatreëls ingestel word om leerders se veiligheid tydens skooluitstappies te verseker. Dit volg nadat Latoya Temilton, ʼn graad sewe-leerder van Laerskool Queenswood in Pretoria, tydens ʼn skooluitstappie verdrink het. Sergio dos Santos van die DA sê hulle verwelkom die departement se besluit om ʼn onafhanklike ondersoek na die voorval in te stel, maar hulle is diep bekommerd dat skooluitstappies gevaarlik word:
# Sokker: Die Demokratiese Republiek die Kongo het die sewemalige kampioene van Egipte uitgeskakel om die Afrikabeker-kwarteindronde te haal. Met ʼn gelykoptelling van een-elk na ekstra tyd, het die Kongo op die Laurent Pokou-stadion in Ivoorkus Egipte na strafskoppe met agt-sewe verslaan. In die ander wedstryd het Mohamed Bayo in die 98ste minuut ʼn doel aangeteken om Guinee tot ʼn een-nul-sege oor die tien-man-span van Ekwatoriaal-Guinee gelei, en sodoende die eerste keer sedert 2015 die laaste agt te haal. Guinee kom Vrydag in Abidjan teen die DRK te staan vir ʼn plek in die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-216-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-25-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….