Nuus 09:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oscar Pistorius se lot sal binnekort bekend wees
# Die Grensbestuursowerheid gaan voort om misdaad by Suid-Afrikaanse hawens te bekamp
# En, die Stad Kaapstad sê pogings om die metropolisie te ontmagtig moet stop
# Die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal twee dae ná sy 37ste verjaardag sy lot weet met die paroolraad wat na verwagting volgende week Vrydag ‘n datum vir sy vrylating sal bepaal. Die Konstitusionele Hof het in Oktober bevind dat hy reeds die minimum vonnis uitgedien het vir die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag in 2013. Die hof het ook opdrag gegee dat sy vonnis tot Julie 2016 terugdateer word. Die Departement van Korrektiewe Dienste het tydens Pistorius se appèlaansoek voor die Konstitusionele Hof erken dat hy in Maart vanjaar reeds sy minimum vonnis uitgedien het.
# Die Grensbeheerowerheid se kommissaris, Michael Masiapato, het ʼn ernstige waarskuwing uitgereik aan misdadigers wat betrokke is by onwettige aktiwiteite en pogings om grense met onwettige en gesteelde goedere oor te steek. In die jongste voorval is twee mense aangekla van besit van gesteelde goedere van 1,9-miljoen-rand en skade aan noodsaaklike infrastruktuur. Dit volg nadat hulle probeer het om goedere na Mosambiek te neem. Masiapato sê die verdagtes het onder andere 52 straatligte wat aan die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal behoort in hulle besit gehad:
Speel klankgreep: ENG MmemmeonSAPorts
# Die Stad Kaapstad sê hy is ontsteld oor die jongste poging om in te meng by die goeie werk wat die metro-polisiedepartement en ander wetstoepassingsagentskappe doen. Die nasionale regering se jongste voorstel is dat wetstoepassingsdienste in stede se magte beperk word tot stadsverordeninge en verkeersdienste. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê dit beteken hulle sal nie langer ʼn rol speel in misdaadvoorkoming soos ʼn hele afdeling van die nasionale konsepbeleid oor die onderwerp voorskryf nie:
Speel klankgreep: AFR JPonDisempower
# Die musiekmagnaat Sean Combs, ook bekend as Diddy of Puff Daddy, is deur sy voormalige vriendin, Casandra Ventura, van verkragting, mishandeling en sekshandel beskuldig. In hofstukke beweer die sanger en danser, wat onder die verhoognaam Cassie optree, dat die Hip-Hop-ikoon haar, vandat sy 19 en hy 37 jaar oud was, oor ‘n bestek van tien jaar verkrag en geslaan het. Sy eis nou sowat 551 miljoen rand van die stigter van Bad Boys Records. Combs het die aantygings ontken en Ventura daarvan beskuldig dat sy hom probeer afpers.
# Sokker: Die Sokkervereniging het Arsenal se bestuurder, Mikel Arteta, van wangedrag aangekla ná opmerkings wat hy vroeër die maand gemaak het toe sy span teen Newcastle verloor het. Hy het die video-hulpskeidsregter se besluit om Anthony Gordon se doel in die een-nul-nederlaag op St James’ Park te erken, as skandelik beskryf. Die vereniging sê Arteta se opmerkings kom neer op wangedrag omdat dit beledigend teenoor beamptes en tot nadeel van die spel is. Hy het tot Dinsdag tyd om op die aanklag te reageer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-371-dollar-4-sent. Die prys van goud is een-duisend-985-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….