Nuus 09:00
BULLETIN 1 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die drie-rand verlaging in die brandstofheffing bied motoriste verligting
# Werksgeleenthede styg met 18-duisend in die laaste kwartaal van 2025
# En ‘n Amerikaanse joernalis word ontvoer deur ‘n Iran-gesteunde militante groep in Bagdad
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se toegewing om die brandstofheffing vir een maand met drie-rand per liter te verlaag. Motoriste betaal van vandag af baie meer vir petrol en diesel omdat die Midde-Oosterse konflik globale oliepryse die hoogte laat inskiet het. Wynand Boshoff van die VF Plus sê hulle het ‘n parlementêre vraag aan Godongwana gestel om uit te vind watter fiskale ingryping bestaan om brandstofprysstygings te bekamp:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad het op hul beurt ook die regering se besluit verwelkom om die algemene brandstofheffing van vandag af tot 5 Mei met drie-rand per liter te verlaag. Die voortslepende konflik in die Midde-Ooste het oliepryse wêreldwyd skerp laat styg. SANTACO-woordvoerder, Rebecca Phala, sê die maatreëls bring tydelike verligting, maar die algemene styging in brandstofpryse plaas steeds druk op die taxi-bedryf en sy daaglikse bedrywighede. Sy sê taxiverenigings ondersoek die prysstygings se uitwerking:
# Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark het beskeie groei getoon tussen Oktober en Desember, met totale indiensneming wat met 18-duisend gestyg het tot net meer as 10,55-miljoen. Winste was hoofsaaklik in handel en sakedienste, terwyl sektore soos konstruksie, vervaardiging en vervoer afnames beleef het. Ten spyte van die kwartaallikse toename het totale indiensneming met 102-duisend gedaal in vergelyking met die vorige jaar. Matlapane Masupye van Statistieke Suid-Afrika sê voltydse en deeltydse poste het ook klein kwartaallikse winste getoon, maar het op ‘n jaargrondslag afgeneem:
# ʼn Amerikaanse vryskut-joernalis, Shelly Kittleson, is gister in die Irakse hoofstad, Bagdad, ontvoer. Sy is volgens berigte naby ʼn hotel voorgekeer. Amerikaanse amptenare het haar blykbaar etlike kere gekontak en gewaarsku teen dreigemente, insluitend van ontvoering, teen haar. Kittleson se spesialisveld is die Midde-Ooste en Afghanistan. Amerika se adjunkminister van Buitelandse Sake, Dylan Johnson, sê ʼn persoon wat vermoedelik bande het met die Iranees-ondersteunde militêre groep, Kataib Hezbollah, is deur Irakse owerhede gearresteer.
# Sokker: Die viermalige kampioen, Italië, kon die derde agtereenvolgende keer nie vir die Wêreldbekertoernooi kwalifiseer nie toe hulle hul kwalifiseerder teen Bosnië en Herzegovina verloor het. Die Demokratiese Republiek die Kongo het Jamaika 1-0 geklop om die eerste keer sedert 1974 te kwalifiseer. Die Tsjeggiese Republiek het die eerste keer in 20 jaar gekwalifiseer toe hulle Denemark in ‘n doelskopstryd geklop het. Swede en die Tsjeggiese Republiek het ook gekwalifiseer vir die toernooi in Amerika, Kanada en Mexiko.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-95-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-672-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-745-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….