Nuus 09:00
BULLETIN 26 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomie toon sterk tekens van herstel
# Meta en YouTube word aanspreeklik gehou vir ‘n vrou se sosialemedia-verslawing
# En atletiek: Die organiseerders van die Londen-marathon oorweeg dit om die geleentheid in 2027 oor twee dae te hou
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomiese vordering wys die wêreld die land is reg om sake te doen en ook op ‘n sterk herstelpad. Hy het gisteraand die amptelike opening van die Ninety One South Africa-hoofkantoor in Kaapstad waargeneem. Ramaphosa sê die land het vier agtereenvolgende kwartale groei in bruto binnelandse produk getoon, nasionale skuld is bestendig en hy het vir drie agtereenvolgende jare ʼn primêre begrotings-oorskot gegenereer:
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing sê op die vooraand van die 2026 plaaslike verkiesing, trotseer Suid-Afrika sy moeilikste voorverkiesingsklimaat in drie dekades. Die jongste opname toon toenemende frustrasie, onbetrokkenheid en vertroue in politieke leiers wat afneem. Die verslag beklemtoon ook ‘n groeiende indruk dat politici nie luister na burgers se behoeftes nie. Die navorsingsdirekteur Ben Roberts waarsku dit kan die kiesersopkoms verlaag, met byna die helfte van stemgeregtigde kiesers wat nie geregistreer is nie:
# Die ANC in die Ekurhuleni-streek het burgemeester Nkosindiphile Xhakaza se stadsrede verwelkom en sê dis ʼn duidelike en eerlike weergawe van die metro se probleme. Hy het in sy toespraak belangrike prioriteite beklemtoon. Dit sluit in die verbetering van basiese dienste, herbou van Ekurhuleni se finansies, herstel van infrastruktuur, en vennootskappe met die privaat sektor. Die ANC sê hy is bemoedig deur die burgemeester se leierskap en vasbeslotenheid om ingewikkelde en langdurige probleme te hanteer. Dit sluit sake in wat by die Madlanga-ondersoekkommissie aan die lig gekom het.
# ‘n Jurie in Kalifornië hou Meta en YouTube aanspreeklik vir ‘n vrou se sosialemedia-verslawing en skade aan haar geestesgesondheid. Die jurie het bevind dat Meta, wat Instagram, Facebook en WhatsApp besit, en Google, eienaar van YouTube, doelbewus verslawende sosialemedia-platforms gebou het wat die 20-jarige se geestesgesondheid benadeel het. Die vrou, bekend as Kaley, is net meer as 100-miljoen-rand in skadevergoeding toegeken. Beide Meta en Google beplan om te appelleer. Kaley se prokureur, Mark Lanier, sê beide maatskappye het nalatig opgetree:
# Atletiek: Organiseerders van die Londen-marathon oorweeg om volgende jaar die geleentheid oor twee dae in plaas van een aan te bied. Dit volg nadat ‘n rekord van 1,1-miljoen mense vanjaar aansoek gedoen het om deel te neem, ‘n toename van 36-persent teenoor die vorige jaar. Die organiseerders sê die geleentheid oor twee dae sal toelaat dat die elite mans- en vrouewedlope op aparte dae plaasvind. Dit sal ook ‘n wêreldrekord van 100-duisend amateuratlete toelaat om oor die naweek deel te neem. Geen formele goedkeuring is nog verleen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-842-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-514-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….