Nuus 09:00
BULLETIN 25 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê Suid-Afrika staan by ‘n kritieke kruispunt in sy omgewingsreis
# Die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha is deur ‘n brand in puin gelê
# En Meta is aanspreeklik bevind in ‘n kinderuitbuitingsaak in Nieu-Mexiko
# Die adjunkminister vir Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, sê Suid-Afrika staan by ‘n kritieke kruispad op sy omgewingsreis. Hy sê die land is geseënd met ongeëwenaarde biodiversiteit, ‘n uitgestrekte kuslyn en ryk bosbouhulpbronne, maar worstel met die werlikhede van klimaatsverandering, armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daarbenewens het hy ‘n plig om toe te sien dat die land se natuurlike rykdom almal bevoordeel. Singh sê Suid-Afrika se sukses in die beskerming van sy ryk natuurlike erfenis kan slegs gemeet word aan ‘n beter lewensbestaan, herstelde ekosisteme en ferm omgewingsbestuur.
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy departement het in samewerking met Eskom, ‘n gestruktureerde program ontwikkel om ladingvermindering uit te skakel. Ramokgopa het gister in ‘n toespraak aan die Nasionale Vergadering gesê ladingvermindering word nie gedoen weens ‘n tekort aan opgewekte krag nie, maar ‘n as ‘n maatreël om die netwerk plek-plek te beskerm wanneer verspreiding oorbelas word. Volgens Ramogkopa is meer as 380-duisend slimmeters landwyd geïnstalleer, terwyl meer as 199-duisend verbruikers van die ladingsverminderingskedules verwyder is:
# Die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha in die Oos-Kaap is in ‘n brand verwoes. Volgens voorlopige inligting het die brand gisteraand op een van die boonste verdiepings ontstaan en vinnig versprei. Die gebou huisves meer as elf regeringsdepartemente, onder meer gesondheid, onderwys, landbou en landelike ontwikkeling. Die burgemeester van die Koning Sabata Dalindyebo plaaslike munisipaliteit, Goodman Nelani, het aan die SABC gesê die ramp sal dienslewering aan gemeenskappe belemmer:
# ʼn Hof in Nieu-Mexiko het Meta beveel om sowat 6,3-miljard-rand aan siviele boetes te betaal nadat hy skuldig bevind is aan versuim om kinders teen seksuele uitbuiting te beskerm. Die prokureur-generaal van Nieu-Mexiko, Raúl Torrez, se kantoor het die saak in Desember 2023 aanhangig gemaak. Meta, wat Facebook, Instagram en WhatsApp besit, word beskuldig dat hy die staat se Wet op Onregverdige Handelspraktyke oortree het. Jurielede het bevind Meta het verbruikers mislei oor die veiligheid van sy platforms en die seksuele uitbuiting van jong gebruikers moontlik gemaak. Meta sê hy gaan appelleer.
# Sokker: Liverpool se voorspeler Mohamed Salah het aangekondig dat hy aan die einde van die seisoen die klub sal verlaat, wat ‘n merkwaardige hoofstuk van nege jaar beëindig. Die 33-jarige internasionale speler van Egipte se nuwe tweejaarkontrak gaan met ‘n jaar verkort word nadat hy dit reeds in April onderteken het. Salah het in Junie 2017 van Roma by Liverpool aangesluit en sal die klub verlaat as die doelskieter met die derde meeste doele, wat ook gehelp het dat hulle die Premierliga, Kampioeneliga, FA-beker én die Carabao-beker wen. Hy sê Liverpool sal altyd sy tuiste wees:
# # En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-790-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-573-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….