Nuus 09:00
BULLETIN 21 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê die uitwerking van die stygende wêreldwye oliepryse word reeds gevoel
# FOSA kritiseer die regering vir die misleiding van Suid-Afrikaners oor brandstofsekerheid
# En Bahrein belowe steun vir die veiligheidspogings in die Straat van Hormoes
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die uitwerking van stygende wêreldwye oliepryse word reeds in Suid-Afrika gevoel. Die regering sowel as die Brandstofbedryfvereniging het vroeër herhaal dat Suid-Afrika se brandstofvoorraad tans bestendig bly, sonder enige behoefte aan paniekaankope. TLU SA-woordvoerder Caria van Der Merwe sê die stygende wêreldwye oliepryse sal die landbousektor beïnvloed:
Die Forum for South Africa het intussen die regering se poging om die publiek gerus te stel oor brandstofvoorsiening verwerp as niks meer as ‘n versigtig bewoorde poging om ‘n groeiende nasionale krisis te verbloem nie. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê Suid-Afrikaners is nie naïef nie. Hy sê die feite skets ‘n veel meer kommerwekkende prentjie van stygende wêreldwye oliepryse, ontwrigtings in die voorsieningsketting en ‘n land wat gevaarlik afhanklik bly van buitelandse brandstof met min werklike beskerming in plek:
# Die Vryheidsfront Plus sê die regering moet in die lig van die Midde-Oosterse konflik sy buitelandse beleid teenoor die VSA heroorweeg. Die party waarsku die regering se steun vir Iran, plaas die verhoudings met sy tweede grootste handelsvennoot onder druk, en ignoreer landsburgers se behoeftes. Corné Mulder van die party sê ideologiese bande mag nie voor die welstand van Suid-Afrikaners kom nie, van wie byna 43-persent werkloos is. Mulder doen ‘n beroep op handelsbetrekkinge wat werksgeleenthede beskerm en mense eerste stel.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters sê dringende optrede is nodig om geestesgesondheidsorg vir kinders te verbeter, met slegs een uit tien wat hulp kry, en noem dit ‘n menseregtekrisis. Met die viering van Menseregtedag blameer die organisasie onderbefondsing, ‘n tekort aan spesialiste en beperkte fasiliteite. Renata Schoeman van die vereniging doen ‘n beroep op meer ondersteuning in skole, beter vroeë ingryping en verbeterde koördinering deur die regering om kinders te help om die sorg te kry wat hulle nodig het:
# Bahrein het by die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Japan en Kanada aangesluit om steun te belowe vir die veilige deurgang van skepe deur die Straat van Hormoes. Leiers van die nasies het vroeër ‘n verklaring uitgereik waarin hulle Iran veroordeel vir aanvalle op ongewapende handelskepe en die gevolglike sluiting van die straat van Hormoes. Hulle het Iran versoek om sy dreigemente te staak en en gesê hulle is bereid om by te dra tot pogings om veilige deurgang deur die Straat te verseker. Dit is nog nie duidelik wat die pogings sal behels of wat die tydlyn sal wees nie.
# En motorsport: Die Formule Een-wêreldkampioen Lando Norris sê dit voel “onwerklik” om binnekort by ander sportsterre en bekendes aan te sluit wanneer sy wasbeeld wat by Madame Tussauds in Londen onthul word. Die 26-jarige Britse renjaer het saam met die ontwerpspan van die byna 200 jaar oue toeriste-aantreklikheid gewerk om ‘n gedetailleerde Norris-replika van kop tot tone te skep. Die nuwe wasbeeld van Norris sal in Madame Tussauds verskyn langs die van mede-Britse Formule Een-wêreldkampioen Lewis Hamilton, en ander sportsterre soos Cristiano Ronaldo, Mo Salah en Anthony Joshua.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….