Nuus 09:00
BULLETIN 19 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Petroleumbronne sê Suid-Afrika se brandstofvoorraad bly bestendig
# President Ramaphosa sê hy is nie vooraf geraadpleeg oor die ontbinding van die polisietaakspan nie
# En ‘n onafhanklike komitee begin verhore oor die dodelike Hongkong-brand
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het Suid-Afrikaners weer verseker die land se brandstofvoorraad is bestendig. Dis ten spyte van die verhoogde woelinge in wêreldwye energiemarkte as gevolg van die volgehoue geopolitieke spanning in die Midde-Ooste. Die woordvoerder van die departement, Lerato Ntsoko, sê brandstofbesendings vir Maart en April is voor die wêreldwye spanning verkry. Sy het bygevoeg hierdie aflewerings sal na verwagting in die komende weke in nasionale behoeftes voorsien:
# President Cyril Ramaphosa ontken dat hy die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde goedgekeur het. Hy sê in ‘n geskrewe voorlegging aan die parlementêre ad hoc-komitee hy was ontevrede omdat die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, hom nie vooraf oor die ontbinding geraadpleeg het nie. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het Ramaphosa daaroor ingelig. Dit weerspreek egter Mchunu se getuienis verlede jaar, waarin hy gesê het hy het die president voor die besluit ingelig en sy goedkeuring ontvang.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê hy ondersteun die Nasionale Tesourie se Metro Handelsdienshervormings. Dit stel ‘n prestasiegebonde dryfveer in die plaaslike ontwikkelingsfinansieringstoelaag bekend. Dis om toerekenbaarheid te versterk en finansiële prestasie en dienslewering in die metropolitaanse handelsdiens te verbeter. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Sithole Mbanga, het beklemtoon geen strukturele aanpassings aan die bestuur van finansiering van handelsdienste mag die raad se gesag ondermyn of aanspreeklikheid verswak nie:
# ʼn Onafhanklike komitee onder voorsitterskap van ʼn regter wat die dodelike brand ondersoek wat in November ʼn behuisingskompleks in Hongkong vernietig het, begin vandag met ʼn reeks openbare verhore. Die brand by die Wang Fuk-woonstelgebou in die finansiële sentrum se Tai Po-distrik, het 168 lewens geëis. Dit was die wêreld se dodelikste brand in ʼn woonstelgebou sedert 1980. Die komitee sal vasstel of brand-veiligheidstandaarde voldoende was, of boupraktyke tot die brand bygedra het, en of daar versuim aan regeringsamptenare of kontrakteurs se kant was.
# Sokker: Die vyfmalige wenners Barcelona, asook Liverpool, Bayern München en Atlético Madrid is deur na die Kampioeneliga-kwarteindronde. Barcelona het Newcastle in die ronde van 16 met 7-2 verslaan met ‘n gesamentlike totaal van 8-3. Liverpool het ʼn 1-0-agterstand in die eerste been omgekeer met ʼn 4-0-oorwinning oor Galatasaray by Anfield en hul totaal is nou 4-1. Harry Kane is die eerste Engelse speler wat 50 doele in die Kampioeneliga aanteken nadat hy twee doele geskop het om Bayern se 4-1-sege teen Atalanta te verseker. Atlético het met 3-2 teen Tottenham verloor, maar hul totaal is 7-5.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-852-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….