Nuus 09:00
BULLETIN 17 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa is bekommerd oor die voortdurende konflik in die Midde-Ooste
# Die EU verwerp die verslapping van Russiese olie- en gassanksies
# En rugby: Nuwelinge Emeris behaal hul eerste Varsitybeker-oorwinning
# Die UDM-leier en adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Bantu Holomisa, sê die voortslepende konflik in die Midde-Ooste bly ‘n groot bron van kommer. Hy het met Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, vergader wat onder kritiek deurgeloop het na sy opmerkings oor die land se regbank en beleid. Holomisa sê die UDM beskou dialoog en onderhandeling as die enigste volhoubare oplossing vir die konflik tussen Israel en die Palestyne:
# Die Europese Kommissie gaan nie die Europese Unie se verbod op Russiese olie en gas verslap nie. President Donald Trump se administrasie het verlede week besluit om sanksies tydelik op te hef sodat ander lande Russiese olie en petroleum wat reeds op vaartuie ter see is, kan koop. Die doel is om markte te bestendig te midde van die ontwrigting van Midde-Oosterse olie- en gasvoorsiening. Die Europese Kommissie se visepresident, Kaja Kallas, sê die internasionale gemeenskap moet weens die oorlog in Oekraïne druk op Rusland volhou:
# Die Nasionale VIGS-Raad van Suid-Afrika het plaaslike farmaseutiese maatskappye genooi om aansoek te doen om generiese weergawes van die anti-MIV/Vigs-inspuiting lenakapavir te vervaardig. Die inspuiting, wat elke ses-maande toegedien word, word vervaardig deur die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy Gilead Sciences, en kan toegang uitbrei en help om HIV/Vigs as ‘n openbare gesondheidsbedreiging teen 2043 te beëindig indien dit wyd gebruik word. Aansoeke moet teen 7 April ingedien word. Indien Gilead lisensies toestaan, kan plaaslik vervaardigde dosisse volgende jaar beskikbaar wees, met internasionale ondersteuning om bekostigbare pryse en hoë vervaardigingstandaarde te verseker.
# Die Vryheidsfront Plus sê hoewel ʼn hofbevel die Ekurhuleni-munisipaliteit dwing om sy Eskom-skuld te delg, is die metro se finansiële krisis veel groter as wat die ANC-geleide administrasie wil erken. Ekurhuleni skuld die kragverskaffer sowat 3,4-miljard-rand, waarvan 1,7-miljard-rand in Maart betaal is. Denise Janse van Rensburg van die VF Plus sê die res van die bedrag sal oor ʼn tydperk van 18 maande afbetaal word:
# Rugby: Die Eagles van die Noordwes Universiteit is bo-aan die puntetabel van die Varsitybeker ná ‘n oorwinning oor Tuks van die Universiteit van Pretoria wat die eerste keer die seisoen geklop is. Die Eagles het Tuks in die tweede helfte onder druk gehou en met 30-22 geseëvier. Die Emeris het as toernooi-nuwelinge die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 26-24 getroef vir ‘n beginners-oorwinning. Die Universiteit van Johannesburg is weer op die wenpad met ‘n sege van 29-17 oor die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas, terwyl die Maties van die Universiteit van Stellenbosch die Ikeys van die Universiteit van Kaapstad met 34-7 kafgedraf het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-601-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-28-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….