Nuus 09:00
BULLETIN 14 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se vervaardigingsproduksie daal met 0,7-persent in Januarie
# Solidariteit waarsku die regering om nie voort te gaan met nasionale gesondheidsversekering nie
# En Europese leiers kritiseer die VSA vir die opheffing van sanksies op Russiese olie-uitvoere
# Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het met 0,7-persent in Januarie gedaal in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar. Die grootste dalings was in hout-, papier- en drukwerk, asook yster- en staalverwante nywerhede, terwyl die petroleum en chemiese produktesektor groei aangeteken het. Nicolai Claassen van Statistieke SA sê vervaardigingsverkope het met 2,8-persent in Januarie gestyg, maar was steeds 3,3-persent laer oor die drie maande sedert November verlede jaar:
# Solidariteit sê die regering kan nie voortgaan met die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan terwyl hofsake nog nie afgehandel is nie. Die organisasie voer aan ‘n onlangse uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria verhoed enige verdere implementeringstappe hangende ‘n finale besluit oor die regsgeding deur die Konstitusionele Hof. Theuns du Buisson van Solidariteit sê ten spyte van president Cyril Ramaphosa se bewerings van voorbereidende werk, sal enige poging om voort te gaan teen die hofbevel indruis:
# Die Stad Ekurhuleni en Eskom het ‘n ooreenkoms bereik om 3,4-miljard-rand se agterstallige skuld te vereffen en te verseker dat huidige elektrisiteitsrekeninge betyds betaal word. Eskom het ‘n kennisgewing ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid uitgereik waarin hy sy voorneme aangekondig het om die elektrisiteitsvoorsiening te onderbreek. Die stad het 1,7-miljard-rand van die skuld betaal, met die oorblywende saldo wat oor 18 maande geskeduleer is. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die ooreenkoms waarborg geen onmiddellike risiko van onderbrekings in die voorsiening nie.
# Die MK-party sê hy is steeds daartoe verbind om premier Thami Ntuli se koalisieregering in KwaZulu-Natal te ontsetel. Nadat hulle in Desember 2025 met ‘n mosie van wantroue misluk het, betrek partyleiers nou ander partye in ‘n tweede poging. Die provinsiale voorsitter, Willies Mchunu, sê die party wen veld en leer uit onlangse tussenverkiesings, waar hy vier wyke gewen het. Die MK-party berei voor vir sy eerste plaaslike regeringsverkiesingsveldtog, met die doel om grondsteun in breër politieke invloed te omskep.
# Europese leiers het gereageer op ‘n Amerikaanse besluit om sanksies op die aankoop van Russiese olie tydelik te verlig. Dit sal lande toelaat om Russiese olie te koop wat reeds op skepe op see is, maar weens sanksies nie verkoop is nie. Die president van die Europese Raad, Antonio Costa, het dit baie kommerwekkend genoem, aangesien dit Russiese hulpbronne verhoog om die oorlog teen Oekraïne te voer, met president Volodymyr Zelensky wat sê die stap bevorder beslis nie vrede nie. Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê Kanada se standpunt is om sanksies teen Rusland te handhaaf, terwyl Duitsland se kanselier, Friedrich Merz, die besluit verkeerd genoem het.
# En rugby: Die voormalige All Black-legende, Tana Umaga, sê hy is geëerd en bevoorreg dat sy naam genoem word as ‘n moontlike hulpafrigter vir die span. Dit volg na Dave Rennie se aanstelling verlede week as Nieu-Seeland se nuwe hoofafrigter. Die voormalige All Black-kaptein is ‘n gerespekteerde figuur in Nieu-Seelandse rugby en dien tans as Moana Pasifika se hoofafrigter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….